NewsNews

NAMPO verteenwoordig die hele sektor, sê minister Didiza

Die datums vir volgende jaar se NAMPO Oesdag is 16 - 19 Mei.

Vanjaar se NAMPO Oesdag het alle verwagtinge oortref met ‘n stewige bywoningsyfer van 73 000. In die loop van die week het 335 vliegtuie en 70 helikopters op die aanloopbaan geland, wat gesorg het vir 925 besoekers wat deur die lugruim alleen gekom het. Die week is gekenmerk deur aangename weersomstandighede, hoewel harde reën Vrydagmiddag dié jaar se NAMPO Oesdag op ‘n nat noot laat afsluit het.
Die Oesdagweek is ingelui deur ‘n besoek van minister Thoko Didiza, minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling. Die minister se afvaardiging het haar twee adjunkministers, asook die departement se direkteur-generaal, Mooketsa Ramasodi, ingesluit.
Sy het tydens die besoek gesprek gevoer met die Ministers van Landbou en Grondhervorming van die Demokratiese Republiek van die Kongo, asook die Argentynse ambassadeur.
“Ek sê vir mense dat NAMPO my tuiste is. Toe ek in 1994 as adjunkminister van Landbou aangestel is, was NAMPO die eerste landbouskou waaraan ek deelgeneem het. My besoek gaan daaroor om by die produsente en die bedryf te wees, en om te kyk na wat nuut is rakende masjinerie en ander industrieë in die sektor.”
“By NAMPO het produsente die geleentheid om interaksie te hê met mekaar en met belanghebbendes, maar ook om nuwe tegnologie wat bestaan, te sien. NAMPO verteenwoordig die uitgestrektheid en geïntegreerdheid van die hele landbousektor,’’ het Didiza gesê.

Me. Thoko Didiza, Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (middel), tydens haar besoek aan die NAMPO Oesdag verlede week. Die voorsitter van Graan SA, Derek Mathews, asook visevoorsitter Jeremia Mathebula, het haar op ‘n toer van die skou vergesel. Foto: Verskaf


Graan SA se voorsitter, Derek Mathews, het in reaksie gesê die NAMPO Oesdag is ‘n fenomenale gebeurtenis en geleentheid om die verskaffers en die hele familie te ontmoet wat die wêreld van landbou skep, nie net in Suid-Afrika nie, maar regoor die wêreld.
Die uitstallers by NAMPO 2022, groot en klein, verdien ‘n pluimpie vir die standaard, moeite en verskeidenheid van hulle uitstallings. Nagenoeg 150 van die 800 uitstallers was nuut vanjaar.
Dr. Dirk Strydom, hoof: NAMPO, Bemarking & Navorsingkoördinering van Graan SA, sê dit is belangrik dat daar nie net ‘n goeie bywoningsyfer is nie, maar dat die 800 uitstallers kwaliteit besigheid doen, kwaliteit gesprekke met produsente het, en gehalte verkoopsleidrade bekom.
Graan SA het ook ‘n kranslegging by die Muur van Herinnering op NAMPO Park gehou ter nagedagtenis aan produsente wat in plaasaanvalle en weens Covid-19 gesterf het.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button