NewsNews

Begrotingsinisiatiewe beïndruk, maar bedryfstekort bekommer

Hoewel opposisiepartye teen die begroting gestem het, is die begroting verlede week deur die ANC-beheerde Ngwathe-raad goedgekeur.

Ngwathe se geldprobleme moet nie sy groot potensiaal oorskadu nie.
Só het Ngwathe se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer verlede week in haar begrotingsrede gesê waarin sy ‘n aantal nuwe inisiatiewe in die vooruitsig gestel het met beter infrastruktuur en ekonomiese groei deur beleggings as oogmerke. Dit sluit in ‘n gespesialiseerde eenheid wat sal fokus op die werwing van nuwe beleggings, asook vennootskappe met universiteite om tegnologie te benut in diens van die Ngwathe-gemeenskappe.
Sy wil meer doen om die gemeenskap, veral jongmense, te help baatvind by die vierde digitale revolusie.
In haar begrotingsrede het sy gesê haar administrasie werk aan maniere om die enorme agterstallige Eskom-skuld te hanteer.
Die DA het burgemeester De Beer se inisiatiewe geloof en volle steun daarvoor uitgespreek. “Dit beteken egter nie ons kan hierdie begroting steun nie,” het die DA gesê. Ngwathe se nuwe 2022/23 begroting beplan verhoogde tariewe en ‘n “ontoelaatbare bedryfstekort” vir die nuwe boekjaar, sê DA-raadslede. Totale bedryfsuitgawes van R937 miljoen word beplan, asook kapitaalbesteding (dit wil sê uitgawes op vaste bates) van R135m. Maar die beplande bedryfsuitgawes is net meer as een miljard rand, wat ‘n bedryfstekort van R75m laat. “Dis enorm en ontoelaatbaar,” het rdl. Arnold Schoonwinkel namens die DA gesê. Hy het gevra dat die finansiële komitee onmiddellik begin werk aan ‘n ingrypende Ekonomiese Herstelplan. Daar is reeds verlede Mei daarop besluit, “maar niks het nog daarvan gekom nie.” Schoonwinkel sê die Herstelplan moet uitspel hoe om alles gedoen te kry met minder geld, deur vrugtelose en onproduktiewe uitgawes te besnoei en korrupsie die hok te slaan.
Schoonwinkel het bygevoeg dat die herstelplan ook maniere moet vind om ‘n inkomste te verdien uit Ngwathe se talle onbenutte bates, waaronder die Mimosa-tuine, Parys se ou hidro-elektriese kragstasie, Heilbron se ontspanningsoord en verhuurbare munisipale behuising en persele.
Ook rdl. Phillip van der Merwe  (Vryheidsfront Plus koukusleier)  het gesê hy is beïndruk deur burgemeester De Beer se voorstelle, maar beskou dit as ambisieus en dat dit harde werk en streng beheer sal verg om dit tot uitvoering te bring.
“Veral gevolgsbestuur sal opgeskerp moet word sodat swak prestasie van amptenare nie ongestraf gelaat word nie,” sê hy.
Hy het daarop gewys dat steeds té veel geld op onproduktiewe sake soos spyseniering en byeenkomste spandeer word.
Alhoewel die matige styging in tariewe verwelkom word, was dit egter nie genoeg om die VF Plus die begroting te laat goedkeur nie. Rdl. Van der Merwe het weer daarop gewys dat die tariefstruktuur steeds onredelik, moeilik verstaanbaar en op plekke selfs sinloos is, ten spyte daarvan dat die VF Plus lank reeds sterk aangedring het dat tariefstrukture hersien word voordat die huidige begroting oorweeg word, maar dit het nie gebeur nie.
As voorbeeld het hy genoem dat besighede R13,56 vir water betaal, terwyl alle ander verbruikers slegs R11,69 betaal. “Ek kan geen basis vind waarop die verskil geregverdig of verduidelik kan word nie,” sê raadslid Van der Merwe.
Hoewel opposisiepartye teen die begroting gestem het, is die begroting verlede week deur die ANC-beheerde Ngwathe-raad goedgekeur.
Die nuwe begroting maak voorsiening vir die styging van:
* Erfbelasting met 4.8% (onderhewig aan ‘n 10% afslag op sakepersele)
* Munisipale dienstariewe soos water, riool en vullisverwydering styg met 6.0%
* Elektrisiteit styg weens groot Eskom-verhogings met 12,8% (onderhewig aan Nersa-goedkeuring).
Die volledige IDP begrotingsrede is op die Ngwathe munisipale webtuiste, asook op Parys Gazette se webtuiste beskikbaar by https://www.citizen.co.za/parys-gazette/70119/idp-budget-speech-by-ngwathe-executive-mayor-cllr-victoria-de-beer/.
Gazette sal aanstaande week die tariefskale publiseer wat vanaf 1 Julie sal geld.

NgwatheRA raadslid, Selma Kok, skryf in haar reaksie op die begrotingsrede:
“Dit was verfrissend om te hoor dat daar die politieke wil en verbintenis is tot beter dienslewering en betrokkenheid by die totale gemeenskap insluitend besighede, die jeug, vroue, gestremdes, ensovoorts.
“So ook die voorneme om te kyk na publieke vennootskappe by projekte, en om hulp uit die gemeenskap te aanvaar.
“Die belangrikste aspek van die begrotingsrede was die verbintenis tot ‘n verantwoordbare ANC-geleide munisipaliteit en wat my persoonlik beïndruk het, was die burgemeester se positiwiteit om oplossings te soek vir die uitdagings waarmee Ngwathe gekonfronteer is, en haar geloof dat doelwitte bereik kan word.”
NgwatheRA het ook nie die begroting ondersteun nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button