Hulp vir JAGERSFONTEIN-BOERE ná slikdamramp
Die Virseker Trust het R50 000 aan Solidariteit Helpende Hand geskenk wat spesifiek aangewend gaan word om verligting te bring vir boere in die Jagersfontein-omgewing wat erg deur die onlangse slikdamramp van 11 September geraak word. Talle boere het ekstensiewe verliese gelei nadat die slik oor hul grond gespoel en skade aan die infrastruktuur aangerig …
Die Virseker Trust het R50 000 aan Solidariteit Helpende Hand geskenk wat spesifiek aangewend gaan word om verligting te bring vir boere in die Jagersfontein-omgewing wat erg deur die onlangse slikdamramp van 11 September geraak word. Talle boere het ekstensiewe verliese gelei nadat die slik oor hul grond gespoel en skade aan die infrastruktuur aangerig het. Grootskaalse veeverliese is aangemeld. In een spesifieke geval het ʼn boer 90% van sy vee verloor.
Die slik bedek steeds groot stukke landbougrond en weidingsveld. Die slik het ook in die omliggende spruite en Rietrivier ingespoel tot by die Kalkfonteindam. Dié water is tans nie geskik vir landbou nie aangesien dit basies net modder is en die boere het groot uitdagings om hulle vee en gewasse van water te voorsien. Daar is nagenoeg 13 plase wat deur die slik geaffekteer word.
Water is en bly steeds ʼn groot behoefte vir die hele gemeenskap. Die landbougemeenskap het egter die volgende dringend nodig:
- Ten minste twintig tot veertig 5 000 liter watertenks;
- Geweldig baie meters 32mm-waterpyp;
- Ten minste veertig tot tagtig waterkrippe;
- Geld om te boor vir grondwater;
- Pompe om water na die watertenks en krippe te pomp;
- Kragvoer vir ooie wat tans lam;
- Voer vir ander vee;
- Draad en boumateriaal om heinings te herstel.
Virseker se skenking gaan aangewend word om van dié toerusting aan te skaf om iets volhoubaar vir die boere neer te sit wat jare ná die ramp hierdie gemeenskap, sowel as die omliggende gemeenskappe, kan bystaan.
Meer inligting volg in die aangehegde mediaverklaring vir oorweging.
ʼn Stemboodskap van Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, is ook aangeheg.
Laat weet gerus as u meer inligting benodig.



