
“Sy was ‘n ware engel, opreg en vriendelik. Iemand wat altyd net wou help. Haar dood is ‘n ongelooflike groot verlies vir Hencil Meat en Koepel Abattoir. ”
So het kollegas van die 28-jarige Michelle Muller Maandagoggend met groot hartseer gesê na haar dood Saterdagoggend, 1 Julie in ‘n motorongeluk op die R59 tussen Parys en Vredefort.
Michelle was alleen in die motor, en was onderweg na Parys toe haar motor met ‘n vragmotor gebots het. Sy is op die toneel dood.
Michelle se skielike dood is ‘n groot skok vir die Vredefort-gemeenskap waar sy grootgeword het. Sy was die enigste kind van Chrisjan en Kleintjie Muller van Vredefort, en het kollegas vertel van haar besondere noue band met haar ouers.
Michelle was ‘n oudskolier van Hoërskool Parys, en het die afgelope net meer as ‘n jaar by Hencil Meat gewerk.
Sy sal met net die mooiste herinneringe onthou word deur haar ouers, familie en verloofde, Willem van der Linde.
Die diens en teraardebestelling van Michelle vind Vrydag, 7 Julie om 12:00 by die Vredefort Begraafplaas plaas.
