News

Belangrik dat Vredefort-koepel as nasionale erfenisgebied verklaar word

Die prioriteit rakende die proklamasie van hierdie gebied as erfenisgebied is een van die sake waarop die voorsitter van die Vredefort-koepel Bewarea, dr. Biddie Biddulph, graag sy aandag wil vestig.

Die Vredefort-koepel Bewarea speel vir die afgelope 18 jaar ‘n groot rol om te verseker dat die Vredefort-koepel UNESCO Wêrelderfenisgebied beskerm word.

Sedert 2008 is die Vredefort-koepel deur UNESCO as ‘n wêrelderfenisgebied verklaar, maar tot op hede is dit nog nie deur die regering as so ‘n gebied verklaar in terme van nasionale wetgewing (Wet op die Werelderfeniskonvensie, 49 van 1999) nie.

Die prioriteit rakende die proklamasie van hierdie gebied as erfenisgebied is een van die sake waarop die voorsitter van die Vredefort-koepel Bewarea, dr. Biddie Biddulph, graag sy aandag wil vestig.
Dr. Biddulph, een van die grondeienaars in die Koepel vir die afgelope 18 jaar, het ‘n groot passie vir die Koepel en het onlangs die bestaande raad van direkteure hersaamgestel om die Vredefort-koepel Bewarea te bestuur en aandag oor die belangrikheid van bewaring van die Koepel te herbevestig.

Dr. Biddie Biddulph, voorsitter van die Vredfort Koepel Bewarea. Foto: Wouter Pienaar.

“Bewaring van die Koepel lê naby aan my hart. Ek het voor Covid-19 besighede in Johannesburg gehad, maar toe die inperking gebeur, het ek meer tyd in die Koepel spandeer en ek en my vrou is nou permanent gevestig op ons plaas,” vertel hy.

Volgens hom is die Koepel uniek in die feit dat 98% van die grond aan 260 privaat eienaars behoort.
“Die regte van die eienaars moet beskerm word tesame met die geskiedkundige en geologiese erfenis van hierdie area. Die natuurlike helling van die topografie kan nie versteur word nie. Dit is belangrik dat bewaring korrek en konsekwent toegepas word en dat die breë publiek bewus is van die bewaringsarea,” noem Biddulph.

Die Koepel het volgens wetenskaplikes ontstaan toe ‘n meteoriet die aarde getref het.
Die krag van die impak het ‘n krater veroorsaak, wat nog sigbaar is en ongeveer 40 kilometer in deursnee is.

“Dit is ‘n absolute prioriteit dat hierdie area as erfenisgebied verklaar word om die grond veral teen onwettige ontwikkeling te beskerm.

“Dit is nou al 15 jaar nadat UNESCO die Vredefort-koepel as ‘n Wêrelderfenisgebied verklaar het. Dit is belangrik dat onderhandelinge nou deurgevoer word op nasionale vlak om bewustheid rondom hierdie saak te skep.”

Beskerming van die gebied word tans hoofsaaklik deur die verskillende omgewingsimpak beoordelingsraamwerke, ingestel deur die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur 107 van 1998, tesame met die algemene beskerming wat deur ander omgewingswetgewing gebied word.

Die Koepel is regstegnies slegs gedeeltelik onderhewig aan relevante SA wetgewing. Verder kan ‘n amptelike bestuursoutoriteit ook nie aangestel word, tensy die erfenisgebied in terme van Suid-Afrikaanse wetgewing geproklameer word. Die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Beskermde Gebiede 57 van 2003 en ander omgewingswetgewing kan ook nie ten volle gebruik word om spesifieke regulasies vir die bestuur van die Vredefort Koepel af te kondig nie.

Related Articles

 
Back to top button