Swendelaars glimlag breed oor hoe hulle jou vang met slim slenters
As jy bejaarde vriende of ouers het, waarsku hulle asseblief, want dit is juis bejaardes wat dikwels die teiken van hierdie gewetenlose bedrieërs is

Dit gebeur al meer dat mense gevang word met allerlei slim slenters om hulle van hul swaarverdiende spaargeld te beroof. Jy moet maar weet – as iets té goed klink om waar te wees – dan is dit! En as jy eers gevra word om geld oor te betaal in ‘n rekening voordat jy jou prysgeld kan kry – dan moes jy al die rooi ligte sien flikker het.
Die polisie in Parys waarsku weer dat daar verskeie voorvalle is waar mense goed aanlyn verkoop vir ‘fantastiese winskopies’, maar moenie glo nie. Maak maar eers goed seker vir wie jy geld oorbetaal veral as dit ‘n onbekende webtuiste is, of iemand met wie jy nog nooit sake gedoen het nie. Gewoonlik moet jy net eers ‘n ou bedraggie betaal. En siedaar – weg is jou geld. Jou geld wat jy vrywillig oorbetaal in iemand, wie jy nog nooit ontmoet het, se rekening.
Nog ‘n slenter wat gebruik word is dat daar kwansuis ‘n transaksie op jou bankrekening deur is wat nie gemagtig was nie, en dat jy net gou die 3 klein nommertjies agter op jou bankkaart moes lees sodat die transaksie omgekeer kan word of ‘n sogenaamde unieke kode moet gee wat na jou selfoon gestuur is.Die slinkse bedrieëers het reeds al jou inligting – dikwels selfs by watter bank jy ‘n rekening het, of probleme wat jy met jou rekening onlangs gehad het. Gaan maar eerder na jou naaste tak en gaan maak self seker of die storie waar is.
As jy bejaarde vriende of ouers het, waarsku hulle asseblief, want dit is juis bejaardes wat dikwels die teiken van hierdie gewetenlose bedrieërs is.