Vrae oor geskorste tegniese direkteur se tugverhoor
Met die raadsvergadering op 31 Augustus, is onderneem dat 'n spesiale raadsvergadering gehou sou word om die raad in te lig oor die vordering met aanstellings. Ook hiervan het nog niks gekom nie.
Tyd loop vandeesweek uit vir die tugverhoor van die Ngwathe munisipaliteit se tegniese direkteur, mnr. T. Malunga, wat op 13 September afgehandel moes wees.
Die klagte teen mnr. Malunga hou verband met pligsversuim, en versuim om wettige opdragte uit te voer. ‘n Onafhanklike ondersoeker wat die geldigheid van die klagtes teen mnr. Malunga moes ondersoek, het op 13 Junie al in sy terugvoerverslag tydens ‘n spesiale raadsitting, aangedui dat daar gronde is vir vervolging.
Daar is toe gesê dat die tugverhoor binne drie maande afgehandel moes word, met die waarnemende munisipale bestuurder wat ‘n voorsittende beampte en getuienisleier moes aanstel. Laasgenoemde moes dan ook die klagstaat formuleer. Tot nou het nog die raad, nog raadslede terugvoer gekry oor die tugverhoor of vordering met die proses, het beide DA raadslid Saal de Jager, en VF Plus raadslid Philip van der Merwe aan Gazette bevestig.
Rdl. Van der Merwe het verlede week in ‘n skrywe aan die munisipale bestuurder dringende terugvoer gevra oor die vordering van die tugverhoor, of dan die redes waarom die proses nog nie afgehandel is nie.
Die raad het vroeër besluit om mnr. Malunga tydelik te skors hangende die uitslag van die ondersoek. Hy het toe sewe dae gehad om redes te gee waarom nie met die skorsing voortgegaan moet word nie. Die tydelike skorsing met betaling geld totdat daar uitslag is van die tugverhoor.
Intussen het mnr. Phele, wat aan die stuur van watervoorsiening in die Ngwathe munisipaliteit staan, tydelik waargeneem as tegniese direkteur. Wetgewing bepaal egter dat ‘n persoon nie langer as drie maande in ‘n pos kan waarneem nie. Die waarnemingstydperk het ook nou al verstryk.
Die Vryheidsfront Plus het vroeër gesê dat die party uiters bekommerd is oor die tekort aan hoëvlak vaardighede by die munisipaliteit.
Met die uitsondering van die tegniese direkteurspos is al die ander senior bestuurs-poste by die Ngwathe munisipaliteit steeds na maande vakant, en is ook vrae hieroor aan Ngwathe se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, in ‘n skrywe gerig.
Ngwathe se munisipale bestuurder, me. Nonhlanhla Baleni het vroeër vanjaar na net vyf maande in die pos met 24-uur kennis bedank. Die Vrystaatse provinsiale regering het daarna mnr. T. Ngese gesekondeer om in die pos as munisipale bestuurder waar te neem tot einde Junie, sodat die nodige prosesse deur die raad gevolg kan word om ‘n munisipale bestuurder aan te stel. Toe sy termyn verstryk, is nog ‘n munisipale bestuurder, mnr. Tebogo Manele, deur die provinsie gesekondeer om in die pos waar te neem.
Nog ‘n sleutelpos, dié van hoof finansiële beampte, is na verskeie persone reeds in die pos waargeneem het, ook steeds nie gevul nie, omdat ‘n geskikte kandidaat nie gekry kon word nie. Die provinsie het ook vir dié pos ‘n kandidaat gesekondeer om waar te neem.
Die verpligtinge van die Direkteur Kor- poratiewe dienste en Direkteur Gemeenskapsdienste word ook deur twee senior bestuurders in die onderskeie departemente behartig wat waarneem in dié poste, omdat ook hier nog nie ‘n aanstelling gemaak is nie. Aansoeke vir die poste het al op 23 Junie gesluit.
Met die raadsvergadering op 31 Augustus, is onderneem dat ‘n spesiale raadsvergadering gehou sou word om die raad in te lig oor die vordering met aanstellings. Ook hiervan het nog niks gekom nie.