News

En dit lek weer: Gebrek aan samewerking en kundigheid dra by tot waternood

Geen erns by munisipale bestuur en amptenare om einde te bring aan waterkrisis

As daar samewerking was tussen kontrakteurs en die munisipaliteit, en  staatgemaak kon word op kundige vakmanskap. kon daar lankal ‘n verskil gemaak word aan Parys se waternood, sê DA-raadslid Saal de Jager.

Die afgelope naweek was die dorp vir die soveelste keer vir dae sonder water as gevolg van lekkasies op die pyplyn na reservoir 3 waar die kontrakteur Gridbow Onam Construction, geroeste kleppe vervang en lugkleppe installeer op kritieke punte. Die projek waaraan daar nou al langer as die aanvanklike kontraktermyn gewerk word, is 95% voltooi.

Die herstelwerk by een van die lekke  moes oor die naweek halt geroep word omdat die regte grootte klep nie beskikbaar was nie, en daar Maandag vir ure gewag is om die regte klep te kry. Nadat daar Maandagnag  van middernag vir die eerste keer weer water gepomp kon word, het die water verlore gegaan by ‘n vloeimeter wat beskadig is by sy seël. Die vloeimeter is Maandag by die watersuiweringsaanleg geënstalleer, het rdl.. De Jager Dinsdagoggend gesê.

En vanoggend het dit ook weer gelek by die lek waar daar tot Maandagnag nog gewerk is.

‘n Lek op die pyplyn na reservoir 3 waarmee daar al sedert die naweek gesukkel word om reg te maak, en dit lek alweer. Foto: Save Ngwathe

 

As die regte materiaal voordat daar gewerk word beskikbaar was, daar die nodige kundige vakmanskap was,, en samewerking  tussen die kontrakteur en die munisipaliteit was om raadslede, inwoners en sakelui betyds te waarsku wanneer daar waterprobleme is, kon baie van die woede en frustrasie wat weer oor die naweek gesien is, vermy word, het rdl. De Jager gesê. Hy het ook benadruk dat die krisis nie opgelos kan word sonder dringende provinsiale of selfs nasionale ingryping nie.

Hy en rdl. Marinda Matthysen Engelbrecht van die VF Plus het oor die naweek deurentyd druk geplaas op die munisipaliteit en die kontrakteur om die lek herstel te kry, maar vir maande  sukkel raadslede en ander drukgroepe in Parys en Tumahole om inligting uit munisipale bestuur en amptenare te kry oor die waterprobleme. Ook Gazette se vele navrae oor die waterprobleme is met totale swye deur die munispaliteit beantwoord.

Die  gebrekkige samewerking met die kontrakteur wat aan die pyplyn gewerk het, is boonop vererger deur die vele probleme by die watersuiweringsaanleg waar beswaarlik 5 megaliter water gesuiwer word van die 15 megaliter kapasiteit wat die aanleg moet kan lewer. Van die kleiner probleme by die watersuiweringsaanleg wat ‘n beduidende verskil kon maak aan die funksionering van die aanleg, en onmiddelllik meer water sou kon lewer, kon lankal vinnig en maklik reggemaak word, het rdl. De Jager gesê, “maar dit is asof daar net nie die wil of erns is om die probleme aan te spreek nie,”

Intussen is dit ‘n daaglikse stryd vir inwoners en besighede om te oorleef sonder water. Die Spur het voorsiening met watertenks van bykans 11 000 liter maar sonder munisipale water, kan die tenks nie volgehou word nie, en moes daar die afgelope week vier keer reeds water aangery word – selfs sover as van Koppies om die tenks vol te maak, en gaan daar vandeesweek geboor word vir water.

Die Najaarsrus Tuiste vir Bejaardes het alreeds twee boorgate en verskeie watertenks. Die waterkapasiteit van die boorgate is egter nie voldoende om die watertenks deurentyd vol te hou nie, het Elbé Ferreira gesê. Ander tehuise vir bejaardes het ook bevestig dat die waterprobleme van die naweek  ‘n krisis word as daar nie dringend water in die krane kom nie.

Ook die Parys Distrik-hospitaal sit met ‘n enorme krisis met watertenks maar geen water om die tenks te kan volhou nie.

Baie kan nie bekostig om te boor vir water nie, en ook nie om daagliks liters water te koop vir huishoudelike gebruik en drinkwater nie. Mense is aan die uiterste nood blootgestel te midde van ‘n hittegolf, en hoewel daar al vir jare met water gesukkel word in die dorp was die nood nog nooit so groot nie.

Die LUR van Cogta, mnr Ketso Makume, het in Mei vanjaar al tydens ‘n onderhoud op eNCA  Parys se watersuiweringsaanleg as ‘n misdaadtoneel beskryf. Die LUR het oor sy bevindinge ná sy besoek aan Parys vroeër vanjaar gesê die Nasionale Tesourie het in die afgelope boekjaar R22 miljoen aan die munisipaliteit bewillig wat veronderstel was om te help met die opknapping van die filters by die watersuiweringsaanleg. Toe hy die aanleg vroeër vanjaar besoek het, het hy gehoor dat R12 miljoen bestee is – maar die filters werk nie.  Hy het toe ook belowe dat ‘n ondersoek gedoen sou word en dat diegene verantwoordelik aanspreeklik gehou sou word.

Intussen het departement waterwese en sanitasie na grootskaalse protesoptrede in Januarie vanjaar, ingegryp en R66 miljoen bewillig om die dorp se watersuiweringsaanleg te herstel en 15km se ou asbespype in die waternetwerk te vervang.

Die kontrakteurs wat dié werk moes doen asook die kontrakteur wat ‘n noodkragopwekker vir die watersuiweringsaanleg moet bou en installeer,  is al in Augustus vanjaar met groot fanfare aangekondig. Die verwagting was toe dat die werk by die watersuiweringsaanleg binne twee weke sou begin, en binne agt maande voltooi sou wees. Die kontrakteur Solar Kasi Company wat die rugsteun kragopwekker moet bou en installeer, moes op 21 Augustus begin het met die projek en binne ses weke na aanvang die projek voltooi het.

Die foto is geneem by Parys se sukkelende watersuiweringsaanleg wat beswaarlik ‘n derde van die water daagliks suiwer wat die aanleg moet kan lewer.

Sedert die aankondiging van die kontrakteurs het die werk by die watersuiweringsaanleg en vervanging van die asbespype  steeds nie begin nie, het raadslede met wie Gazette gepraat het, bevestig. Die munisipaliteit het geen antwoorde op navrae oor vordering met die projek gegee het, maar sal kommentaar bygewerk word sodra dit ontvang word.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button