Parys-waterkrisis: AfriForum-tak bring PAIA-aansoek oor aangestelde kontrakteurs
Inligting oor kontrakteurs gevra

AfriForum se Parys-tak het vandag, Dinsdag10 Oktober ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit ingedien om inligting te bekom oor die kontrakteurs wat aangestel is om dié munisipaliteit se waterwerke op te gradeer en ’n kragopwekker te installeer. Albei kontrakteurs moes reeds verlede Maandag (2 Oktober) met die opgradering en installering begin het, maar tot dusver is daar nog geen werk gedoen nie. Die munisipaliteit het 30 dae om op AfriForum se aansoek te reageer.
Die burgerregte organisasie sê in sy verklaring dit het onder AfriForum se aandag gekom dat die kontrakteur wat vir die waterwerke aangestel is, nie in staat daartoe is om die werk te doen nie, en nou ’n subkontrakteur aangestel het. In die aansoek wat gebring is word inligting gevra oor hoe die tenderproses verloop het, wat die kontrakteurs se kwalifikasies is, en of hulle by die betrokke professionele verenigings geregistreer is.
“Ons doen hierdie aansoek omdat dié munisipaliteit berug is daarvoor dat dit onbevoegde mense aanstel. Dit het al dikwels daartoe gelei dat die werk nie gedoen word nie en is ’n belangrike rede vir die geweldige waterkrisis wat Parys nou ondervind. Ons wil hierdeur ons gemeenskap beskerm en die munisipaliteit dwing om die regte mense aan te stel sodat die werk nie, soos tans die geval is, oor en oor gedoen moet word en die gemeenskap steeds sonder water gelaat word nie. AfriForum steek egter ook ’n helpende hand uit na die munisipaliteit en kan die munisipaliteit dadelik van kundigheid voorsien,” sê Schalk Burger, Parys-takvoorsitter.



