“Ek verhef my stem – nie sodat ek kan skree nie, maar sodat diegene sonder ’n stem gehoor kan word. Ons kan nie suksesvol wees as die helfte van ons teruggehou word nie.” – Malala Yousafzai.
Hierdie is ‘n inspirerende aanhaling in die lig van die 70ste herdenking van die dag wat 20 000 vroue op 9 Augustus 1956 na die Uniegebou in Pretoria opgeruk het in protes teen die uitbreiding van Paswette vir vroue.
Hierdie optog is gelei deur Sophia Williams-De Bruyn, Lilian Ngoyi, Rahima Moosa en Helen Joseph. Meer as 100 000 handtekeninge het ‘n aantal petisies gemerk wat by die eerste minister, J.G. Strydom, afgegee is. Nadat hulle hierdie dokumente by sy kantoor ingehandig het, het hulle vir sowat 30 minute stil buite gestaan. Kort voor lank het die vroue ‘n proteslied begin sing met woorde wat vertaal word in “Nou het jy die vroue aangeraak, jy het ‘n rots geslaan”.
Die regering van Suid-Afrika het Augustus tot vrouemaand verklaar en 9 Augustus word jaarliks as Vrouedag gevier.
Nasionale Vrouedag vestig die aandag op belangrike kwessies wat vroue vandag nog in die gesig staar, soos ouerskap, gesinsgeweld, seksuele teistering in die werkplek en ongelyke betaling.
Nasionale Vrouedag is gebaseer op baie van dieselfde beginsels as Internasionale Vrouedag, en streef na baie van dieselfde vryhede en regte.
Nthabiseng Mngani sê dat vroue heel jaar lank gevier moet word.
“Vrouedag herinner my dat ek net so braaf en kragtig is soos die vroue wat voor my gekom het. Dit beteken ek moet myself liefhê en besef ek kan onafhanklik wees.”
Nthabiseng gaan voort om te sê sy gaan môre werk sodat sy die pragtige dames van Parys kan bedien.
“Ek voel ons het genoeg vakansiedae, maar ek dink dit kan nie seermaak om een dag te hê wat ons spesiale mans vier nie.”
Tlaleng Mokoena sê weer mans word baie meer waardering gewys en vroue verdien een dag wat net oor hulle gaan.
“Mans en vroue moet nie verskillend hanteer word nie, maar as gelykes behandel word. Vrouedag is vir my baie spesiaal omdat ons vir ons regte en ons reg om gelukig te wees baklei. Ons kan regtig trots wees op ons geskiedenis.”
Gelukkige Vrouedag aan al die sterk vroue! Mag jy ‘n sterk vrou ken, mag jy een van hulle wees, mag jy ‘n sterk vrou grootmaak en mag jy ander inspireer om ‘n sterk vrou te wees!





