85 Vasgetrek in opsporingsoperasie
Die gearresteerde verdagtes sal na verwagting Maandag voor die hof verskyn,

In ‘n gesamentlike poging om misdaad te bekamp het ‘n ses-uur lange opsporingsoperasie onder leiding van die Vrystaatse Provinsiale Speurhoof, Brigadier Sebocho, en distrikskoördineerder, kol. Motholo, gelei tot die inhegtenisneming van 85 gesoekte verdagtes in die Thabo Mofutsanyana-distrik.
Die operasie is by al 31 polisiekantore in die distrik uitgevoer. Die doel was om individue op te spoor wat gesoek word vir verskeie oortredings, insluitend kontakmisdade, trio-misdade en eiendomsverwante misdade, asook dié wat hofverskynings ontduik het.
Hierdie misdade sluit aanrandings, roof en opsetlike beskadiging van eiendom in, met baie verdagtes wat voorheen wetstoepassing ontduik het. Die opsporings- en arrestasiepogings is van kritieke belang om te verseker dat hierdie individue voor die hof gebring en aanspreeklik gehou word, het a.o Mmako Mophiring gesê.
Die SAPD herhaal dat samewerking met wetstoepassingsagentskappe van kardinale belang is om wet en orde te handhaaf. en het lede van die publiek aangemoedig om enige inligting te verskaf wat kan help om verdagtes op te spoor.



