Local newsNews

Beskerming van ons kinders begin al in die winkeltrollie

Vetsugkoerse onder kinders in Suid-Afrika het in net tien jaar toegeneem van een uit elke 20 tot een uit elke agt

In supermarkte word kinders gebombardeer met kos en drank wat hoog is in suiker en versadigde vet, in kleurvolle verpakkings en dikwels met strokiesprentkarakters en misleidende gesondheidsbewerings. Dít is dieselfde produkte wat die skerp toename in kinder-vetsug dryf – ’n openbare gesondheidskrisis wat stilweg vererger.

Terwyl Suid-Afrika Nasionale Kinderbeskermingsweek van 29 Mei tot 5 Junie herdenk, pleit die Healthy Living Alliance (HEALA), by die regering om op te tree teen ‘n groeiende bedreiging vir kinders se gesondheid – ongesonde verpakte voedsel.

Skokkende syfers wys dat vetsugkoerse onder kinders in Suid-Afrika in net tien jaar toegeneem het  van een uit elke 20 tot een uit elke agt. As niks verander nie, kan meer as 4 miljoen kinders tussen 5 en 19 jaar teen 2031 geraak word, wat Suid-Afrika onder die tien lande met die hoogste kinder-vetsug sal plaas. Dit verhoog hul risiko vir chroniese siektes later in die lewe soos diabetes, hipertensie en hartsiektes.¹

“Dít is ’n kwessie van kinderbeskerming,” sê Zukiswa Zimela, Kommunikasiebestuurder by HEALA. “Kinders is uiters kwesbaar vir verpakte kosse wat dikwels hul gesondheid benadeel. Ouers probeer goeie keuses maak, maar sonder duidelike, sigbare waarskuwings is hulle gedoem om te misluk. Ons kan nie so aangaan nie.”

HEALA doen ’n beroep op die Departement van Gesondheid om dringend verpligte vooraan-verpakkingswaarskuwingsetikette (FoPWL) in te stel – eenvoudig en duidelik wat aandui wanneer ’n produk hoog is in sout, suiker of versadigde vet, of kunsmatige versoeters bevat. Hierdie etikette maak reeds ’n verskil in lande soos Chili, Mexiko en Argentinië, waar dit gehelp het om inname te verminder en die persepsie van ongesonde kos te verander.

In Chili het studies getoon dat waarskuwingsetikette bygedra het tot ’n skerp daling in suikerhoudende drankverbruik, verminderde blootstelling aan ongesonde kosadvertensies vir kinders, en maatskappye aangespoor het om hul resepte aan te pas. “Dit werk. En dit is tyd dat ons dieselfde in Suid-Afrika doen,” sê Nzama Mbalati, HUB van HEALA.

“Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel vooraan-verpakkingetikette aan as ’n kostedoeltreffende openbare gesondheidsintervensie,” sê Mbalati. “Hierdie etikette is die effektiefste wanneer hulle verpligtend, interpreteerbaar en maklik verstaanbaar is – veral vir mense met laer geletterdheidsvlakke, soos kinders. Die wetenskap is duidelik. Ons het die bewyse. Wat ons nie het nie, is die politieke wil om op te tree.”²

Suid-Afrika se konsepregulasies (R3337), wat verpligte etikettering vir kosse met hoë vlakke van suiker, sout en versadigde vet insluit, asook produkte wat kunsmatige versoeters bevat, is in April 2023 gepubliseer maar is steeds nie gefinaliseer nie.

Ten spyte van sterk publieke ondersteuning en groeiende gesondheidsrisiko’s, het die Nasionale Departement van Gesondheid nog nie opgetree nie. Teen Februarie 2024 – ses maande nadat die openbare kommentaartydperk gesluit het – is insette nog nie hersien nie.  Duisende openbare kommentare het implementering teen die einde van 2023 geëis, maar voedselbedryfsdruk word algemeen beskou as die rede vir die regering se huiwering.

“Intussen word kinders sieker,” sê Mbalati. “Hulle word opgestel vir ’n leeftyd van gesondheidskomplikasies soos diabetes, hoë bloeddruk en hartsiektes, omdat daar geen beskerming is teen daaglikse blootstelling aan ongesonde voedsel nie.”

Volgens Yolanda Tarisayi Radu, Senior Navorser in Reg en Beleid by PRICELESS SA: “Navorsing toon dat vooraan-verpakkingetikette nie net ‘n bewese manier is om die verbruik van ongesonde voedsel te verminder nie, maar ook fundamenteel is tot die beskerming van elke kind in Suid-Afrika se grondwetlike reg op gesondheid. Duidelike en sigbare etikette stel gesinne in staat om gesonder keuses te maak en hou voedselvervaardigers aanspreeklik. Die implementering van verpligte etikettering is ’n noodsaaklike stap om ons verpligting na te kom om kinders se gesondheid te beskerm.”

HEALA waarsku dat vrywillige, nie-interpretatiewe etikette geen werklike impak gehad het nie. Hulle is dikwels verwarrend, inkonsekwent, en maklik vir vervaardigers om te omseil. “Daarom het ons verpligte waarskuwingetikette nodig. Ons kan nie toelaat dat voedselmaatskappye wins bo mense se gesondheid plaas nie,” sê Zimela.

“Om kinders te beskerm beteken ook om hulle ’n regverdige kans op ’n gesonde lewe te gee. Dit beteken om teen korporatiewe mag op te staan en gesondheid bo wins te plaas. Dit beteken om nou op te tree, voor nóg kinders skade ly,” sluit Mbalati af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button