Meer as 34 000 wat sterf in grootste ellende word onthou
Met 'n vol program is ’n verhaal van hoop en toekomsbou aan ’n nuwe geslag oorgedra.
Konsentrasiekampdag is vandag, 16 Junie op besonderse wyse by die Voortrekkermonument gevier. Daar is nie net stilgestaan by die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog (ABO) en
die ongeveer 45 konsentrasiekampe nie, maar ’n verhaal van hoop en toekomsbou is opnuut aan ’n nuwe geslag oorgedra.
Op 16 Junie 1900, agt maande ná die uitbreek van die ABO, is proklamasie 5/1900 deur lord Roberts uitgevaardig. ’n Verskrikking wat veld en vlees met die verskroeideaardebeleid
vernietig het. Vroue, kinders en bejaardes is in konsentrasiekampe gegooi waar honger, siekte en koue uiteindelik meer as 34 000 lewens geëis het.
“Terwyl ons dié ongelooflike opoffering van vorige geslagte met eerbied herdenk, kyk ons hoopvol vorentoe. Ons kinders is die volgende geslag wat met kulturele selfvertroue ’n
groeiende aarde moet plant,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: beeld en groei van die Voortrekkermonument.
Hy sê dit is daarom belangrik om ’n onverdraaide, onafgewaterde geskiedenis met ons kinders te deel en hulle terselfdertyd met hoop as toekomsbouers toe te rus.
Volgens Brand was dit wonderlik om soveel gesinne by die Kultuurtuiste te verwelkom. “16 Junie is ’n dag van erkenning en eerbied, maar ook ’n geleentheid om ons kinders as die
voorvatters van môre te eer. Daarom was ons kinders die eregaste vir die dag.”

Die jong besoekers het die dag terdeë geniet en die geskiedenis met al hul sintuie beleef: nie in boeke nie, maar in die knie van brooddeeg, die galop van perdehoewe en die pret van
boeresport. Daar is heerlik tou getrek, kettie geskiet en sakresies gehou. Erfenispret soos min!
Hulle het ook almal gratis toegang tot die Monument en ’n gratis toer van die Pioniersentrum gekry, waar hulle van modeltreintjies tot minerale kon leer. ’n Hoogtepunt was beslis om
brood op die tradisionele manier, in die buitelug, te leer bak.

tydens Konsentrasiekampdag deel te neem. (Foto: Niël Langner)
“Die konsentrasiekampe is vandag stil getuies van swaarkry, maar ook van volharding en geloof. Gerard Moerdijk was ’n konsentrasiekampkind wat uiteindelik ’n baken van
toekomshoop uit sy pen laat vloei het, aan ’n droom gestalte gegee het van ’n Monument wat vir ’n duisend jaar moes staan.”
“Vandag staan die Monument nie net as ’n herinnering aan die Voortrekkers nie, maar as getuigskrif van die kampkind van Standerton se deursettingsvermoë. Ons wens is dat ons
kinders hulle nie sal vasstaar teen die uitdagings, die verskroeide aarde van vandag nie, maar aktief sal bou aan ’n groeiende aarde vir generasies wat kom,” sê Brand.



