Lefra palm handvol Naledi-nominasies in
Daar word baie hard gewerk om produksies soos hierdie op die planke te bring, en spoor erkennings soos hierdie ook ons land se talentvolle kunstenaars aan.
Lefra Produksies het vanjaar nie minder nie as vyf Naledi Teatertoekenning-nominasies ontvang vir produksies wat in 2024 opgevoer is.
Die volgende nominasies is ontvang:
- Chanie Jonker in die Kategorie: Beste Oorspronklike Musiekverwerkings vir haar rol as Musiekregisseur in die produksie, GÉ SING – HOOR MY LIED.
- Lefra Produksies in die Kategorie: Beste Revue of Kleinskaalse Musikale Produksie vir die produksie, GÉ SING – HOOR MY LIED.
- Botha Enslin, Marissa Claasen, Phillru Van Achterbergh, Danielle Britz, Nico Loubser, Nikita Meyer en Stefan Lotter ontvang die nominasie vir Beste Ensemble Spel in ‘n Toneelstuk vir MY BOETIE SE SUSSIE SE OU
- Frans Swart is genomineer vir Beste Regisseur in ‘n Musikale Produksie vir GÉ SING – HOOR MY LIED.
- Stephanie Baartman is genomineer in die Kategorie: Beste Hoofrol (vroulik) in ‘n Musikale Produksie.


Frans Swart, Besturende Direkteur van Lefra Produksie en regisseur vir beide Gé sing – Hoor my lied. en My boetie se sussie se ou, sê hy is baie verras oor die aantal nominasies wat Lefra se Produksies vanjaar ontvang het.
“Ons is werklik dankbaar dat die Naledi’s vir ons hierdie erkenning gee vir die werk wat ons gedoen het.
Teater in Suid-Afrika is maar in ‘n moeilike tyd en ons maak staat op die ondersteuning van die Suid-Afrikaanse publiek.

Juis in hierdie moeilike tye, is dit lekker om hierdie nominasies te ontvang om veral te weet ons werk word raakgesien,” sê Swart. Hy sê voorts dat hy baie trots is op die genomineerdes. “Hierdie is talentvolle kunstenaars wat baie hard in die verskillende produksies gewerk het en wat hierdie nominasies dubbel en dwars verdien het. Ons nooi die publiek haretlik uit om hierdie verskillende produksies te kom sien en te ondersteun!”



