Speurders trek swaar onder las van saaklêers
Die doeltreffendste afskrikmiddel vir voornemende misdadigers is juis die wete dat jy opgespoor, skuldig bevind en gestraf sal word as jy ’n misdaad pleeg. Dit is eenvoudig nie moontlik wanneer die SAPD oorwerk en onderbefonds bly nie
Speurders in die Vrystaat, insluitend gespesialiseerde eenhede hanteer gemiddeld 395 saaklêers per persoon, terwyl die ideale getal 100 saaklêers per persoon is. Die implikasie is dat die 1 597 speurders in die provinsie gesamentlik ’n totaal van 630 815 onopgeloste sake op enige gegewe tydstip in die Vrystaat moet hanteer.
Dié skokkende realiteit het aan die lig gekom uit ‘n antwoord op ‘n vraag aan die LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer, mnr. Jabu Mbalula, in die Vrystaatse Wetgewer.
Die DA het in reaksie hierop vandeesweek gesê die werkslading is onmoontlik om te bestuur en is een van die hoofredes vir swak opsporings- en skuldigbevindingkoerse in die provinsie. Verder word gesê dat stresverwante gesondheidsprobleme ook toeneem, tesame met selfmoordgevalle onder SAPD-lede.
Die hoë saaklading word toegeskryf aan personeeltekorte en ’n gebrek aan ander hulpbronne, soos forensiese kapasiteit, wat SAPD-lede se vermoë om misdaad doeltreffend te bekamp en skuldigbevindings te behaal, beënvloed.



