Provinsiale ingryping by Ngwathe: Ses ander VS munisipaliteite het die pad geloop
VF Plus wil bekwaamheid bo kaders in Ngwathe-herstelplan sien
Die verval van Ngwathe is die direkte gevolg van onbevoegde bestuur en die afwesigheid van verantwoordbaarheid. Inwoners ervaar dit daagliks in die vorm van watertekorte, sanitasiekrisisse en gebrekkige dienslewering. Die tyd vir simboliese ingryping is verby, daar moet nou daadwerklik en met kundigheid opgetree word. So sê die VF Plus in antwoord op regter J.P. Daffue se uitspraak Vrydag in die Hoë Hof in Bloemfontein wat in die guns van AfriForum beslis het toe bevind is dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners van onder meer Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort gekom het nie.
Ingevolge die uitspraak moet die Ngwathe munisipale raad in terme van ’n gestruktureerde hofinterdik ontbind word en die Vrystaatse provinsiale regering met onmiddellike effek by dié munisipaliteit ingryp.
Daffue het in sy 28 bladsye uitspraak benadruk dat die munisipaliteit en sy raad disfunksioneel is en dat provinsiale regeringsdepartemente, en die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (SRTS) in die besonder, versuim het om in ooreenstemming met die grondwet by die munisipaliteit in te tree. Hy het daarop gewys dat dié saak ’n geskikte geval is waarby die hof die rol as waghond moet speel.
Kragtens Daffue se uitspraak moet die Vrystaatse premier, die provinsie se uitvoerende raad en die ander betrokke respondente in die saak nou binne die raamwerk van artikel 139(5)(a) en (b) van die Grondwet:
- ’n herstelplan implementeer om dienslewering te herstel en toe te sien dat die munisipaliteit sy finansiële verpligtinge nakom;
- die Ngwathe- munisipale raad ontbind en ’n administrateur aanstel totdat ’n nuwe munisipale raad verkies kan word; en
- ’n tydelike begroting, inkomste-genererende maatstawwe of enige ander maatstawwe goedkeur wat uitvoering sal gee aan die herstelplan.
Die hof het verder beveel dat die premier van die Vrystaat sowel as die uitvoerende raad en die LUR’e vir SRTS, Finansies en Ekonomiese, Kleinsakeontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake elke drie maande, onder eed en skriftelik, aan die hof verslag moet doen oor die vordering in die implementering van die bevel.
Daffue het ook beveel dat die Ngwathe-munisipaliteit tesame met agt ander respondente in die saak, waaronder die premier, AfriForum se regskoste moet betaal.
Die VF Plus sê in sy reaksie hy verwelkom die uitspraak van die Vrystaatse hooggeregshof, en dat die hofbeslissing geleentheid bied om die wanbestuur en verval in die munisipaliteit om te keer, mits bekwaamheid die grondslag van die herstelplan vorm, en nie politieke kaders nie.
Die party wys egter ook daarop dat provinsiale administrasie nie ’n waarborg vir sukses is nie. In ses ander Vrystaatse munisipaliteite waar dieselfde model toegepas is (Mangaung, Tokologo, Mafube, Kopanong, Maluti-a-Phofung en Nala) het ingryping nie die gewenste resultate gelewer nie. “Die aanwys van amptenare sonder plaaslike kennis of toepaslike ondervinding is telkens ’n resep vir mislukking,” sê Tammy Breedt, die party se LP in die Nasionale Raad van Provinsies.
Die VF Plus dring aan op ’n duidelik omskrewe en gedeelde herstelstrategie, met meetbare kort-, medium- en langtermyn doelwitte wat deursigtig gekommunikeer moet word aan die munisipale raad en gemeenskap.
“Hierdie strategie moet ‘n volledige ontleding van personeel se vaardighede en ondervinding insluit, opleiding waar nodig, afdanking van onbevoegde personeel wat bygedra het tot die huidige krisis en realistiese planne om kontantreserwes op te bou vir instandhouding, opgradering en nuwe infrastruktuur. Slegs dan sal dienslewering verbeter en kan inwoners van Ngwathe weer hoop hê aanvaarbare lewensomstandighede,” het die party gewaarsku.
Die party sê ook die ANC se beleide van kaderontplooiing en regstellende aksie staan tussen mense en dienslewering. “Solank hierdie beleide in plek is, het geen ingryping ’n werklike kans op sukses nie,” is gesê.
Die party meen wat nodig is, is bevoegde mense met ervaring in plaaslike regering en ‘n begrip van die unieke uitdagings van dorpe soos Parys, Vredefort, Heilbron en omliggende gebiede, en voeg by dat hierdie hofuitspraak die begin van ’n werklike ommekeer moet wees.



