Local newsNews

Ondersoek na ‘bedrieglike’ grondhervormingstransaksies lei tot herstel van monument

Andries Potgieter het ’n gedeelte van sy trekgeselskap in die omgewing, waar die monument opgerig is, destyds agtergelaat terwyl hy op soek was na ’n roete na die kus.

‘n Ondersoek na bedrieglike grondhervormingstransaksies in die Laeveld, het uiteindelik daartoe gelei dat die gevandaliseerde Trichard-Potgieter-Monument op die R532, noord van Graskop tussen God’s Window en Bourke’s Luck,  tot sy eertydse glorie herstel is. Die monument is op  28 Junie weer onthul.

Dit danksy private ondersoeker, Paul O’Sullivan wat met sy navorsingswerk tydens die ondersoek in die gebied op die geskiedenis van dié erfenisbaken afgekom, en
besluit het om geld vir die FAK te skenk om  die monument te herstel

Die monument is in 1976 deur die Rapportryers ter ere aan die twee Voortrekkerleiers, Andries Hendrik Potgieter en Karel Trichardt opgerig. Albei leiers het deur dié gebied getrek om ’n roete na die kus te vind.

Charles Rademeyer, die FAK se kultuurkoördineerder van die noordelike provinsies, oorhandig ’n toekenning aan Paul O'Sullivan van O'Sullivan Brosnan & Associates wat dit vir die FAK finansieel moontlik gemaak het om die monument te herstel. (Foto: Johan de Bruin)

Charles Rademeyer, die FAK se kultuurkoördineerder in die noordelike provinsies;, bemarkingsbeampte Johan de Bruin,  en beeldhouer Jaco van Niekerk van die Kultuurtuiste het van 24 tot 27 Junie herstelwerk aan die monument gedoen,  en die onthulling op 28 Junie behartig.

“Die Voortrekkers was nie net pioniers nie,” sê Rademeyer, “hulle was bouers van ’n wêreldbeskouing. Hulle het geweet: as jy jou plek in die wêreld wil behou, moet jy weet wie
jy is. Jy moet jou wortels verstaan. Hulle het geweet om iets nuuts te begin, beteken nie om die verlede te vergeet nie – dit beteken om dit saam te dra as fondament.”
Hierdie monument is ook van historiese waarde deurdat die benoeming van die Treur- en Blyderiviere aan hierdie erfenisbaken verbind kan word.”

Lede van verskeie organisasies het die heronthulling van die Trichard-Potgieter-
Monument bygewoon. (Foto: Johan de Bruin)

Potgieter het ’n gedeelte van sy trekgeselskap in die omgewing, waar die monument opgerig is, agtergelaat terwyl hy op soek was na ’n roete na die kus. Nadat hy vir ’n geruime tyd nie
teruggekeer het nie, het sy trekgeselskap vermoed dat hy omgekom het en die naaste rivier die Treurrivier genoem. Hy het egter later veilig teruggekeer en toe het hulle die volgende
rivier die Blyderivier genoem. ’n Jaar later het Karel Trichardt (seun van Louis Trichardt) dieselfde roete as Potgieter gevolg om goedere by Delagoabaai te begin verhandel.

Van die gaste by die heronthulling was die oorspronklike Rapportryers wat in 1976 die monument gebou het, nasate van Karel Trichardt en Andries Potgieter, asook die M.O.T.H’s
se Jock Shellhole in Sabie.

Die geskiedkundige monument weer tot sy eertydse glorie herstel.

Die navorser en geskiedskrywer, dr. Gerrit Haarhoff, het ’n pragtige historiese beeld van daardie tydperk geskets en Frederik Brits van die FAK-Pietersburg-Kultuurnetwerk het die
belangrikheid van erfenisbewaring uitgelig.

“Die herstelwerk aan hierdie monument was nie maklik nie,” sê Rademeyer. “Dit het opoffering geverg, tyd, handearbeid en ’n diep liefde vir ons geskiedenis. Maar dit was ook
’n groot voorreg. Want elke klip wat herstel is, is ’n klip wat weer begin praat – van moed, van reis, van geloof en van roeping.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button