Jou hulp broodnodig vir ander in nood
Met Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) se jaarlikse Broodjiedag word brood ingesamel vir hulle wat dit die nodigste het
Hoe moeilik moet dit nie wees om in hierdie winterkoue ‘n kind honger bed toe te stuur, of sonder ontbyt skool toe? Om nie te weet waar die volgende maaltyd vandaan sal kom nie. Dit is waarom Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) die Broodjiedag-projek ‘n paar jaar gelede begin het.
Met die projek word seker gemaak dat daar in elke huis minstens ‘n brood sal wees.
Verlede jaar is 533 brode en broodrolletjies met Broodjiedag ingesamel. Wil jy nie help om hierdie rekord te breek nie?
Tuisgebak, gekoop, ‘n toebroodjie of broodrolletjie – lank of rond – wat jy ookal kan gee, maak ‘n verskil. Die brode en broodrolletjies word uitgegee vir behoeftiges, families, maar ook organisasies – waar ookal hulp broodnodig is
Jy kan jou broodskenking by VVA se kantoor in Buitenstraat afgee, of skakel (056) 811 2971 om te reël dat die brood gehaal word, of sou jy enige navrae oor die projek hê.



