Geen agterstand meer met lykskouings by staatslykshuis
Die Vrystaatse Departement van Gesondheid sê hy bly daartoe verbind om dienslewering te verbeter en te verseker dat families tydige afsluiting kan vind in hul tyd van rou.

Lang wagtye vir lykskouings by die staatslykshuis in Bloemfontein is iets van die verlede, sê die Vrystaatse LUR vir Gesondheid, mnr. Monyatso Mahlatsi. Mahlatsi sê dit is te danke aan ‘n hoëvlak-vergadering met die nuwe Hoof van die Departement, Mnr. Motsamai Ernest Mohlahlo, en die Uitvoerende Bestuur saam met Senior Bestuur van Forensiese Patologiedienste om knelpunte op te los wat vantevore tot die agterstand bygedra het.
Mondli Mvambi, die departement se woordvoerder sê verder daar is vinnig gereageer op kwessies wat gelei het tot die vroeëre uitreiking van ’n verbodskennisgewing van Departement Arbeid, en word die situasie nou proaktief bestuur, en voldoen aan Arbeidsgesondheids- en Veiligheidsstandaarde, en die verkryging en installasie van verhitting-, ventilasie- en lugversorgingstelsels (HVAC).
“Vanaf 21 Julie is daar geen agterstand in uitstaande lykskouingsake nie,” het ’n uitgelate LUR Mahlatsi gesê.
Lykskouings vir die meerderheid van opnames uit Mangaung, Xhariep en Thabo Mofutsanyana word nou binne sewe werksdae na opname by ’n forensiese fasiliteit voltooi.
Tien lykskouings per dag word tans op weeksdae by die staatslykshuis gedoen, met bykomende lykskouings wat op Saterdae gedoen word om aan die diensleweringsvereistes te voldoen. Lykskouings word vanaf Maandag tot Donderdag uitgevoer, terwyl Vrydae gereserveer is vir deeglike skoonmaak en die bestuur van buitengewone diensvereistes, het Mvambi gesê.
Hoewel die Departement optimisties is oor die vordering, is dit belangrik dat die publiek bewus is dat sekere sake steeds tot twee weke kan neem om af te handel, veral dié met ingewikkelde omstandighede en die betrokkenheid van belangrike rolspelers in die medies-geregtelike ondersoek van onnatuurlike sterftes, het Mvambi bygevoeg.
LUR Mahlatsi het die Forensiese Patologiedienste geloof vir hul uitsonderlike werk tussen 14 en 19 Julie waartydens ’n totaal van 72 lykskouings voltooi is. Hierdie merkwaardige prestasie het daaglikse lykskouings van tien ingesluit, met ’n buitengewone 22 lykskouings wat op Saterdag, 19 Julie 2025, uitgevoer is, is gesê.
“Om hierdie uitstekende werk vol te hou, moet ons verseker dat ons nie terugval na die stresvolle lang wagtye wat ons mense aan sekondêre trauma onderwerp het terwyl hulle wag vir die terugkeer van hul geliefdes vir begrafnis nie,” het LUR Mahlatsi gesê.
Hy het ook families gevra om die staatslykhuis te skakel voordat begrafnisdatums beplan word, om te bevestig dat alle medies-geregtelike ondersoeke, insluitend lykskouings, voltooi is. Hierdie proaktiewe benadering sal families help om onnodige reiskoste en die teleurstelling van laaste-minuut-vertragings weens uitstaande regsprosesse te vermy, het hy gesê.
Die LUR het verder uitgelig dat ingewikkelde gevalle, soos dié van liggame wat onherkenbaar verbrand het, tot menslike oorskot wat in ’n gevorderde stadium van ontbinding is, langer ondersoektye mag verg, insluitend DNS-analise. Hierdie proses word uitsluitlik deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bestuur en kan die vrystelling van liggame uit die forensiese lykhuis vertraag.



