Miljoene se onwettige sigarette gekry ná verkeersbeamptes hond se gedagtes kry oor vragmotor by weegbrug
Georganiseerde misdaadsindikate kos die fiskus miljarde rand in verlore inkomste en belasting.
Die 36-jarige Mthobisi Mkhatswa, sal Donderdag vir ’n tweede keer in die landdroshof in Ventersdorp verskyn vir ’n borgtogaansoek nadat hy aangekla is vir die besit van onwettige sigarette.
Hy is Woensdag by ’n weegbrug in Ventersdorp gearresteer nadat hy betrap is terwyl hy 350 bokse Chief- en Sahawi-sigarette vervoer het,. Die waarde van die sigarette word geskat op R4,5 miljoen, sê polisiewoordvoerder Brigadier Sabata Mokgwanone.
Verkeersbeamptes het hond se gedagtes gekry toe hulle die oorlaaide vragmotor by die weegbrug kry en dit toe nagegaan waarop die onwettige sigarette gekry is. Die polisie is na die toneel ontbied, en die vragmotorbestuurder gearresteer. Beide die vragmotor en die sigarette is gekonfiskeer.

Die Provinsiale Eenheid vir Kommersiële Misdade (CCIU) ondersoek die voorval.
Waarnemende Provinsiale Kommissaris Majoor-Generaal Patrick Asaneng, het gesê dat hierdie arrestasie ’n belangrike stap is in die polisie se ondersoeke en pogings om transnasionale georganiseerde misdaadsindikate te ontbind wat die fiskus miljarde rand in verlore inkomste en belasting kos deur die mark te oorstroom met vals, goedkoop en gevaarlike produkte soos onwettige sigarette.



