Local newsNews

Tragedie toe ammunisiewa ontplof hier onthou

Die monument is jare later deur Voortrekkerseuns van Parys opgerig op die plek waar Frans Jooste gesterf het.

Langs die R59 tussen Parys en Vredefort staan die Frans Joost-monument. ‘n Monument wat ‘n storie vertel van ‘n tragedie wat hom hier op 26 Augustus 1900 afgespeel het.
Na die geveg by Frederikstad keer Christiaan de Wet en genl Philip Botha terug na die Vrystaat en vind dat al die driwwe geblokkeer is deur die Britte. Naby Parys op die plaas Witbank slaag hulle wel om die Vaalrivier te kruis, maar loop hulle suid van Parys vas in hewige vuur van die Britte.
By die Boere is ń wa met 4 bokse vol dinamiet onder beheer van twee broers, Hans en Frans Jooste van die Bethlehem-distrik. Die wa beweeg stadig en trek die meeste van die Britse vuur.
Naby ń koppie besef die broers dat die wa ń teiken is en dat hulle sal moet vlug vir hulle lewens en begin hardloop.
So 50 meter van die wa af draai Frans terug om sy baadjie op die wa te gaan haal. In die Hoëveldse winter is ń baadjie kosbaar en noodsaaklik. Juis toe word die wa vol getref. ‘n Geweldige ontploffing volg, die slag word tot by Liebenbergskoppie gehoor en laat ń groot krater wat na meer as 100 jaar  steeds sigbaar is.
Frans is op slag dood, sy liggaam in stukke geruk, slegs een hand en ń deel van sy voet is herkenbaar. Een van die osse is ook op slag dood en ń ander erg beseerde os raak op loop met stukke oorblyfsels van die wa. Die res van die 16 osse hardloop weg en is later op ń naburige plaas gevind.
Frans Jooste se oorblyfsels word begrawe in die krater wat die ontploffing gelaat het.
Twee maande later is Frans se broer, Hans  gevange geneem en na St Helena verban. Na die oorlog het hy teruggekeer na Bethlehem.
In 1974 het Parys se Voortrekkers ‘n monument vir Frans opgerig, waar hy gesterf het. Saam met hul offisier, Ben Nel het die 12-jarige seuns klippe van die koppie af gedra om die monument te bou.
Die Frans Jooste-monument langs die R59 tussen Parys en Vredefort. Fotos:  Gysbertus Johannes Ströh, Monumentjagter.
Die klippe was deel van ń ou Matabele kraal wat steeds daar sigbaar is. Die seuns het daar gekamp terwyl hulle besig was met die bouwerk.
Die monument is op 26 Oktober 1974 onthul.
Die storie van Frans Jooste is in die monument toegemessel ter wille van bewaring van die inligting.
Die monument is op ń plaas  waar toestemming en toegang vooraf gereël moet word.
(Bron: Boer en Brit. Parys Info. Parys Museum.)
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button