Hoogste Rotary-erkenning vir onbaatsugtige diens
Rotary Parys het die gesogte internasionaal erkende Paul Harris-toekenning aan twee gemeenskapslede van Parys toegeken, asook verskeie sertifikate vir mense uit die gemeenskap wat 'n verskil gemaak het met hul onbaatsugtige diens aan die gemeenskap van Parys.
Die Rotariërs se hoogste erkenning vir diens in lyn met die beweging se leuse “Service above self”, is deur die plaaslike Rotaryklub aan Erna Rademan en John Simson oorhandig.
Die gesogte internasionaal erkende Paul Harris-toekenning word slegs in uitsonderlike gevalle oorhandig waar ‘n merkwaardige bydrae in die gemeenskap gelewer is.
Die toekenning is vernoem na Paul Harris, ‘n regsgeleerde en stigter van Rotary International in 1905 in Chicago.
Die Paul Harris-toekenning kan aan Rotariërs sowel as nie-Rotariërs oorhandig word, en is bekendes soos Jimmy Carter en Moeder Teresa, al met die toekenning vereer.
Erna en John se Paul Harris-toekennings is op 13 Augustus namens die klub deur Steve Shone, distriksgoewerneur vir Rotary se Distrik 9370, aan hulle oorhandig.

Erna Rademan
Erna het die toekenning ontvang vir haar groot en uitsonderlike bydrae tot musiek, nie net in Parys en Vredefort nie, maar ook in die Vrystaat. Gedurende die 12 jaar wat sy by die Chris van Niekerk Gekombineerde Skool was, doen sy baanbrekerswerk om die klein gemeenskap ten volle te dien.
Benewens klavier, blokfluit- en sanglesse, bring sy twee kore op die been en stig ‘n bottelorkes om soveel moontlik kinders die geleentheid te gee om die wonder van saam musiek maak te ervaar. Sy rig ook deurentyds plaaslike sanggroepe uit die gemeenskap af.
In 2005 word sy bevorder tot Senior Opvoedkundige Spesialis vir Dans, Drama, Musiek en Visuele Kuns in die Noord-Vrystaat, en beklee sy die posisie vir tien jaar. In 2011 word sy gekies as die Suid-Afrikaanse Vereniging van Musiekonderwysers (SAVMO) se vise-president vir die Vrystaat en Noord-Kaap. ‘n Posisie wat sy tot 2016 beklee het.
In 2018 word sy verkies tot nasionale president van SAVMO, en dien die vereniging tot 2021. Sy word ook in 2018 SAKOV (Suid-Afrikaanse Kerkorrelvereniging) se verteenwoordiger vir die Vrystaat, en dien in die hoedanigheid tot 2023.
Erna was van Maart 2015 skoolhoof van die Chris van Niekerk Skool. Met die hulp en ondersteuning van Peter Guy van die Manguang Strings Programme, bring sy ‘n strykersprogram by dié klein skool op die been.
Na slegs een jaar, kon die skool spog met ‘n strykorkes wat wyd en syd vir optredes genooi is.
Die program het ‘n hele skool se kinders uit agtergeblewe gemeenskappe intiem laat kennis maak met strykinstrumente en klassieke musiek.
In die volgende drie jaar reis ‘n hele klomp van hierdie kinders gereeld na Europa om daar aan strykensemble feeste deel te neem.
Weldra is die program ook na Primêre Skool Parys, en die gekombineerde skole van Schonkenville en Koppies uitgebrei.
Erna verlaat in 2018 formeel die onderwyssektor en bring die Erna Rademan Musiekskool in Parys op die been waar sy lesgee in klavier, viool, tjello, blokfluit, kitaar en solosang.
Sedert 1999 is sy saam met Marli Krüger as stigters en dirigente betrokke by die Deo Gloria gemeenskapskoor.
Sy tree gereeld op as gasorrelis en beoordeel graag Eisteddfods en kunswedstryde so ver as Ethekwini en Murraysburg.
Onder haar leiding is vele kore en simfonieorkeste al na Vredefort gebring waar dié uitsonderlike konsertuitvoerings in die NG Klipkerk met sy manjifieke drie-manuaal Fehrle en Roeleveld-orrel na die plattelandse gemeenskap gebring is.
Erna is ook deel van die ATKV Vredefort Koepel-tak wat aktief in die gemeenskap werk om taal en kultuur te bevorder.
John Simpson
Vir die 58-jarige John Simpson gee niks hom meer vreugde as om sy deel te doen vir Epilepsie SA se Vrystaat/Noordwes-sentrum. Jaar na jaar loop hy die strate plat om sy deel te doen om fondse vir die sentrum in te samel, en bewusmaking vir epilepsie te skep, want dié sentrum en sy mense is huis vir hom – al van 1987 af.
Elke jaar stel hy vir homself ‘n doelwit en wanneer personeel ‘n idee het vir ‘n fondsinsameling, is John vuur en vlam en die een wat daad by die woord voeg. Sy geesdrif is aansteeklik. Hy hou boek van elke sent wat hy insamel en kan volledig verslag doen oor elke jaar se fondsinsamelings waarmee hy gehelp het.
Baie Parysenaars het hom leer ken toe hy week na week van besigheid tot besigheid geloop het om koekies te verkoop vir die sentrum. Toe die koekie-projek nie meer winsgewend was nie, het hy gesorg dat hy steeds daar is om te help waar hy nodig was.
Ten spyte van sy eie gesondheidsuitdagings, glo hy dat hy ‘n verskil kan maak, en is sy toewyding, vriendelike geaardheid en onblusbare gees ‘n inspirasie.
Onbaatsugtige gemeenskapsdiens erken
Sertifikate van erkenning vir onbaatsugtige diens is ook aan Braam Cilliers, Karien du Plessis Viljoen, Sanette Boonzaier, Werda Visser, Angelique Kleynhans, Giepie van Dyk en Ras Bothma oorhandig.
Die nie-winsgewende organisasie MooiParys het sy ontstaan te danke gehad aan die inisiatief van Braam Cilliers en sorg die organisasie dat die dorp weekliks skoongemaak, en dorpsingange verfraai word.
Sanette Boonzaier van Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) is geloof vir haar dryfkrag om die droom van Huis Chrissanloo, VVA se Huis van Veiligheid vir kinders wat weens verwaarlosing en mishandeling noodgewonge uit hul ouerhuise verwyder moet word, te help verwesenlik sodat daar ook in Parys ‘n tydelike en veilige hawe van heenkome vir hierdie kinders kan wees.
Karien du Plessis Viljoen is erken vir haar bydrae as stigterslid en bestuurslid van die gemeenskapsdrukgroep Save Ngwathe wat ‘n waghondfunksie vervul om te verseker dat gemeenskappe se belange eerste gestel word wanneer dit kom by munisipale dienslewering.
Werda Visser is vereer vir haar bydrae tot die bevordering van toerisme in Parys, Giepie van Dyk vir sy positiewe ingesteldheid, en Angelique Kleynhans vir haar bydrae tot toerisme deur Parys Tourism Radio.
Ras Bothma se erkenning was vir sy bydrae tot sportontwikkleling deur die Big Rock Cycling School.
Nuwe klublede wat by die swierige toekenningsgeleentheid deur assistent-goewerneur Colin Engelbrecht ingehuldig is, is, Chané Grimbeek, Ryno van den Berg en Willem Viviers Jr.

Parys Rotaryklub het self ook onlangs erkenning ontvang toe die klub vir die tweede jaar ‘n Club Excellence Award ontvang het.
Vorige Paul Harris-toekennings
Parysenaars wat in die verlede die besondere eer van ‘n Paul Harris-toekenning te beurt geval het, was Eddie Schutte, ‘n voormalige president van Parys Rotaryklub. Die toekenning is in 1960-1961 aan hom gemaak toe hy distriksgoewerneur van Rotary was. In 2023, ontvang Sandra Uys, president van Rotary Parys, die toekenning op distriksvlak vir die merkwaardige verskil wat sy in die klub gemaak het ten opsigte van ledetal en projekte.

Dagboek dié datums
5 Sept – Rotary Glow in the Dark Fun
Run/Walk, Vaal de Grace 18:00
27 Sept – Rotary Family Health Day
25 Okt – Parys Crater Street Mile



