Kom beleef die Koepel se Camino-bekoring
Die Vredefort Koepel wêrelderfenisgebied het 'n unieke habitatverskeidenheid en bied die bergagtige gebied 'n besondere stapervaring.
Omsoom deur die ongerepte natuurskoon van die Vredefort Koepel met sy merkwaardige geologiese erfenis, kronkel die 80-100km pelgrimstog-roete deur die hart van die wêreld se oudste en duidelik sigbaarste meterorietkrater.
As jy hier kom tekkies aantrek vir die 4-5 dae se stap, skep jy asem in die stilte wat jou siel verkwik.
Die pelgrimstog met sy 3-4 ster akkommodasie deur die Vredefort
Koepel Bewaringsgebied, word binnekort bekendgestel. Benewens die wild- en natuurlewe, geologiese terreine, en historiese landmerke, die Vaalrivier en berglandskap, sal jy ook die sterrehemel op sy mooiste hier beleef.
Met belangstelling in pelgrimstogte wat ook in Suid-Afrika groei, sal die Crater Camino ‘n groot toerisme-hupstoot vir die gebied bring.
Nie net om die Koepel se unieke habitatverskeidenheid met elke sintuig te beleef nie, maar ook om deur Parys se gasvryheid omarm te word by die vele unieke restaurante, akkommodasiefasiliteite, winkeltjies soos kleurvolle krale geryg langs die dorp se hoofstraat, die rivier en opwindende avontuurtoerisme-aktiwiteite. Van kanovaart tot bergfietsry, voëlkyk, kabelgly (zip line) en diep getrapte geskiedenisspore om te gaan verken.
Die terrein is bergagtig en moet jy redelik stapfiks wees, maar jy sal beloon word met skilderagtige uitkykpunte, die grootste wilde olyfwoud ter wêreld, ‘n geologiese aanbieding, ‘n blik op die mynbougeskiedenis van die omgewing, en die voël- en wildlewe eie aan die Koepel.

Stappers sal gemiddeld 15-20km per dag stap.
Die geskiedenis van pelgrimsreise
Die eerste Camino (pelgrimsreis) het in die vroeg negende eeu in Spanje begin as die Camino de Santiago toe Koning Alfonso II na die nuut ontdekte graf van St. Jacobus in 814 nC gereis het.
Hierdie reis van Koning Alfonso word beskou as die begin van die tradisie wat hoofsaaklik as geestelike reis bedoel is.
Vandag is daar heelwat staproetes waarna as Caminos verwys word. Onder die bekendstes in Suid-Afrika is:
* Die Kaap Camino om die Kaapse Skiereiland wat Suid-Afrikaanse diversiteit te toon stel
* Tankwa Camino: ‘n Staptog van 232km deur die Karoo-woestyn wat as ‘n fisiese en geestelike uitdaging beskou word
* Baviaans Camino: ‘n Staptog van 95km deur die Baviaanskloof-berge en Kouga-bergreeks
* Die Namaqua Camino: ‘n 7-dag woestyntrek deur Namakwaland in die Noord-Kaap
* Die Hermanus Camino: ‘n Staptog van 70km deur die berge en strande van Hermanus in die Wes-Kaap
* Die Kogelberg-natuurroete: ‘n Staptog van 70km deur die Kaapse Blommeryk in die berge van Kleinmond.
* Sungazer-pelgrimstog: ‘n Slackpacking-roete van Paul Roux in die Vrystaat
* Plett Camino: 5 dae, 80km
* Hoerikwaggo Kaapse Slackpacking: 6 Dae deur Tafelberg Nasionale Park
* Newbery passie pelgrimstog: 211km oor 11 dae en 12 nagte
* Wille Willemien pelgrimstog: 80km oor 4 dae en 5 nagte
* Sandy Shoes pelgrimstog: 116km oor 6 dae en 7 nagte
* Dirty Harry-pelgrimstog: 49km oor 3 dae en 4 nagte

Gesels met Sanci Cilliers oor die Crater Camino by 082 929 8593.




