Kinders maak ‘n verskil by Saligna-parkie
Die kinders wil ook graag die speelapparaat in die parkie verf, maar kort nog 'n borgskap vir die verf. Hulle hoop dat plaaslike besighede weer kans sal sien om saam te werk om die parkie nóg mooier te maak.
Die Seligna-parkie in Cillierstraat is na aan die hart van Parys se mense, want dit is hier waar kinders ure aaneen baljaar in die netjies onderhoude parkie. Die parkie het egter verlede week ‘n nuwe baadjie gekry toe splinternuwe borde opgesit is — alles te danke aan die ywer en toewyding van vier graad ses leerders wat besluit het om hul gemeenskap te dien.
Die vier, Lian Combrink, Melenie Hirst, Karlien Harmse en Hendre Potgieter, het opgemerk dat die parkie se ou reëlsborde verweer en onleesbaar geraak het. As deel van hul graad se gemeenskapsdiensprojek het die vier besluit om nuwe borde te laat maak. Hulle het eers elke ou bord noukeurig gaan meet en die hoeveelhede en groottes bepaal. Daarna het hulle kwotasies by verskeie drukkerye gevra. Die plan was om met plaaslike besighede te praat om borgskappe vir die borde te kry.
Groot was hul verbasing en opgewondenheid toe hul by It’s Ink kom en ‘n borgskap vir al die borde kry. “Ons kon ons geluk nie glo nie,” vertel die kinders. Danksy die ruimhartige gebaar het die projek sommer vinnig vordering gemaak, en is die splinternuwe borde met die hulp van Grimbeek van der Westhuizen, wat die parkie instand hou, stewig vasgesit.



Die gemeenskap is trots op die kinders se harde werk en toewyding wat gewys het dat selfs jongmense ‘n verskil kan maak wanneer hulle saamstaan, en dat daar boobop nog baie behulpsame mense is wat bereid is om ‘n helpende hand te bied.



