Oom Paul kuier in Vereeniging voor sy Vrystaatse draai in Parys
Die beeld staan saam met sy voetstuk 10m hoog en sal mense die beeld op die pad sien totdat dit uiteindelik sy eindbestemming in Orania bereik.
‘n Presiese replika van die Paul Kruger-standbeeld wat op Kerkplein in Pretoria staan, is vanoggend in Vereeniging gesien voordat die beeld later vanmiddag op die FAK se Udolpho Rivierplaas net buite Parys sal aankom vir ‘n luisterryke program wat vanaand vanaf 18:00 op Udolpho aangebied word.
Die Kruger 200-toer doen op verskeie dorpe aan onderweg na Orania waar dit ‘n tuiste op die dorpsplein sal vind. Die beeld sal dan op 10 Oktober, op Kruger se 200ste verjaardag in Orania onthul word.

Daar is op Erfenisdag, 24 September, vanaf die Voortrekkermonument in Pretoria vertrek, met die beeld wat met sy voetstuk bygereken, 10 meter hoog staan en 1,5 ton weeg.
Cara Tomlinson, kultuurkoördineerder van die FAK, sê die nuwe Kruger-standbeeld wat soos die ware Jakob lyk, is deur beeldhouer Jacques Müller gemaak, nadat die oorspronklike beeld in 3D afgeneem en gedruk is, waarna dit in brons gegiet is.

Inwoners van die dorpe waar die beeld aandoen sal deel kan hê in die feesvieringe, waaronderdie opvoering van die NP van Wyk Louw-toneelstuk, ”Kruger breek die pad oop”. Die toneelstuk handel oor die lewe van Kruger en die harde besluite wat hy moes neem.
Daar is sedert uit Pretoria vertrek is, reeds in Rustenburg, Potchefstroom, Krugersdorp en Heidelberg aangedoen, voordat daar vandag ‘n draai gemaak is in Vereeniging.
In Krugersdorp is die reisende standbeeld langs Paul Kruger se standbeeld in Pretoriuspark in Paardekraalweg staangemaak. Die standbeeld in Krugersdorp beeld ’n jong Paul Kruger uit wat regop met sy hoed in sy hand staan. In sy ander hand hou hy ’n Bybel vas, wat sy geloofsbasis en -sekerheid uitbeeld, het die FAK in ‘n verklaring gesê.
In Vereeniging is gestop op die Vredesonderhandelingsterrein asook by die Vryheidsmonument.


Met vanaand se program op Udolpho sal die Deo Gloria-koor gehoor kan word, en sal die NP van Wyk Louw-toneelstuk ook gesien kan word. Die program sluit af om 20:00.
Die Kruger feesprojek is aangepak deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM), tewyl die Orania Kunsteraad (OKeR) vir die toneelopvoering verantwoordelik is.
Indien jy graag meer wil lees oor die Krugerbeeld wat sy tuiste op Orania vind, volg die skakel Ewebeeld van Krugermonument in Orania – FAK

Mense wat meer inligting wil hê oor die Udolpho-program kan vir Cara by 072 439 2593 of cara@kultuurtuiste.org.za kontak of Jan-Danie Malan by Udolpho by 082 965 7002.
Mense kan hul naam verewig op die nuwe plein waar die Kruger-standbeeld ’n tuiste sal kry deur ’n simboliese steen te koop. Gaan na https://www.orania.co.za/paul-kruger vir meer inligting.



