Local newsNews

Polisiebeamptes vas vir skaapdiefstal, verkoop van bedreigde spesie

“Om die stelsel skoon te maak en die gemeenskappe se vertroue in wetstoepassing in die geheel te herstel, moet ons dié onder ons wat die wet oortree, in hegtenis neem. Ons verwelkom hul arrestasie en prys die polisie vir die onverskrokke toepassing van die wet,” het LUR Morweng gesê.

Drie speurders van Vryburg het voor die hof verskyn nadat hulle glo vier skape van ’n boer in die Vryburg-distrik gesteel het.

Toe die boer besef dat van sy skape weg is, het hy sy sekuriteitskameras nagegaan wat die registrasienommer van die voertuig gewys het waarin die gesteelde skape glo gelaai is.

Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat die voertuig aan die Vryburgse Speurders behoort, en het verdere ondersoek die polisie na ’n huis in Dithakwaneng-dorp buite Vryburg gelei waar ‘n skaapkarkas gekry is.

Die drie beamptes is saam met die man, by wie se huis die karkas gevind is, in hegtenis geneem.

Die polisiebeamptes is op borgtog van R1 000 elk vrygelaat,  terwyl die vierde beskuldigde R500 borgtog gekry het. Die vier sal in November weer voor die hof verskyn.

In ’n ander, nie-verwante voorval nie, is twee beamptes van die Sun City-polisiestasie tydens ’n geheime operasie in Pretoria in hegtenis geneem vir die besit van bedreigde spesies.

Die twee beamptes, glo saam met twee burgers, het na bewering ’n ietermagog vir R160 000 probeer verkoop. Dit was toe hulle die transaksie wou afhandel met ’n beweerde koper dat hulle vasgetrek het.

Volgens LUR Morweng van die Noordwes Departement van Gemeenskapsveiligheid en Vervoer is die inhegtenisname van die polisiebeamptes betreurenswaardig, maar stuur dit ‘n duidelike boodskap uit dat niemand bo die wet verhewe is nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button