AfriForum lê strafregtelike klag oor rioolstorting
Rioolstorting deur plaaslike munispialiteite word gereeld gesien en het AfriForum nou 'n strafregtelike klag teen die Emfuleni Munispaliteit ingedien ná briewe oor die storting volgens die burgerregte organisasie klaarblyklik geen reaksie van die munisipaliteit gebring het om die storting stop te sit nie.
Dit is nie net die Ngwathe Plaaslike Munisiipaliteit waar rioolstorting gereeld gesien word nie. AfriForum het die afgelope week ’n strafregtelike klag by die polisiekantoor in Vanderbijlpark teen April Ntuli, die munisipale bestuurder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, ingedien oor die voortdurende en ernstige storting van rou riool in die CW5-woongebied in Vanderbijlpark.
Die burgerregte organisasie het sedert 2024 verskeie briewe aan Ntuli en die Emfuleni-munisipaliteit gerig waarin die organisasie versoek het dat die probleem dringend opgelos moet word. Desnieteenstaande die klagtes en formele kennisgewings, het die munisipaliteit nog geen blywende oplossing geïmplementeer nie.
Rou riool stoot gereeld op in inwoners se erwe en vloei deur strate, wat ’n ernstige gesondheidsrisiko vir die gemeenskap inhou. “Hierdie situasie is ’n blatante skending van inwoners se grondwetlike reg op ’n gesonde en veilige omgewing. Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit, ten spyte van herhaalde waarskuwings, nie die nodige stappe doen om die probleem op te los nie,” sê Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.
Volgens AfriForum kom die voortdurende versuim om die rioolstelsel te herstel en behoorlik te onderhou neer op nalatigheid en moontlik kriminele oortreding ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur en ander toepaslike wetgewing.
Die organisasie beplan om druk op die owerhede te hou totdat verantwoordbaarheid verseker word en ’n permanente tegniese oplossing in werking gestel is. “Ons sal nie toelaat dat gemeenskappe aan die genade van ’n wanfunksionele munisipaliteit oorgelaat word nie,” sluit Blignault af.
*Die Menseregtekommissie het vroeër vanjaar verskeie punte waar rioolstorting gerapporteer is in die Ngwathe Munisipale gebied besoek.



