Boeke dra die boodskap waar kerksaal vroeër was
Die Christelike boekwinkel is in die hart van Parys se toerisme korridor en is oop Maandae tot Saterdae.
Die deure van Die Berean Bookstore in die hoofstraat van Parys se toerisme korridor staan wawyd oop. Dit nooi jou binne met ‘n naam afkomstig van die teks uit Handelinge17:11. ‘n Teks wat die visie van dié besondere boekwinkel saamvat – om mense se harte te bereik deur die evangelie.
“Die droom vir dié Christelike boekwinkel is op 20 Mei gebore,” vertel Karel Marais, een van die boekwinkel komiteelede. In die rustigheid van die boekwinkel vertel hy hoe ‘n eenvoudige idee werklikheid geword het ná vier maande se gebed, beplanning en toegewyde spanwerk. “As die Here ‘n ding wil laat gebeur, sal Hy die paaie oopmaak,” sê Karel.
Die boekwinkel is op die Baptiste kerkperseel op die h/v Breë- en Father Balinkstraat. en is oop Maandae tot Saterdae.
Voorheen was dit die gemeente se kerksaal, maar is die saal die laaste jare nie meer gereeld benut nie.
Die idee vir ‘n meer vrugtevolle benutting van die saal het gegroei uit die gedagte van Aldred Genade ‘n paar jaar gelede, dat die Here jou nie verniet op ‘n spesifieke plek plaas nie, en dat die kerkgebou in Parys se sogenaamde ‘Golden Mile’ tot Sy eer gebruik moet word, vertel Karel verder.
Aldred was voorheen ‘n lidmaat van die gemeente.
Hoewel die boekwinkel apart van die kerk funksioneer, kry die boekwinkelkomitee baie steun van gemeenteleraar, ds. Jannie Vosloo, en gemeentelede.
Met 320 boektitels in Afrikaans en Engels op die rakke, omhels die rustigheid jou hier waar jy kan kuier om die evangelie. Vrywilligers beman die boekwinkel en koffiestasie, en alle inkomste word gebruik vir die aankoop van nog nuwe boeke om die evangelie uit te dra.

Niemand besit die winkel wat as nie-winsgewende organisasie bedryf word nie, sê Karel. “Dit is die Here se winkel. Regdeur die proses was die Here se voorsienende hand duidelik,” sê hy. Elke behoefte is vervul – deur die bereidwillige, vrygewige en toegewyde harte van gemeentelede en die breër gemeenskap.”

Aanvanklik het ons gedink die boekwinkel sou eers vroeg in 2026 oopmaak, maar nadat ‘n begroting uitgewerk en die boodskap uitgestuur is vir wat nodig was, was daar binne twee dae genoeg fondse om die winkel in te rig. Mense het beslis nog ‘n behoefte aan boeke, sê Karel. “Ons wil mense honger maak om die Bybel te bestudeer,” sê hy en voeg by: “Ons kan waarlik smaak en sien dat die Here goed is, soos Psalm 34:9 lees.”




