Elke seël vertel sy eie storie
Seëlversamelling is 'n stokperdjie wat wêreldwyd beoefen word en selfs vir sommige 'n waardevolle belegging is.
Seëls kan dalk iets wees wat jy nie sommer meer sien nie, maar as die versamelgogga jou gebyt het, raak aanlynveilings en internethandel met seëls amper soos kar koop. So gesels twee Parysenaars, Koos de la Rey en Trevor Harris, wie se seëls vanjaar gesien kan word by ‘n seëluitstalling van die Sasolburgse Filatelie Vereniging. Die uitstalling word gehou van 27 tot 31 Oktober in die Sasolburgse Openbare Biblioteek. Mense kan vir die duur van die uitstalling gratis tussen 10:00 en 16:00 na die besondere uitstalrame van nagenoeg 15 uitstallers gaan kyk. Vir die uitstalling het Koos Mauritius, en Trevor skaak as temas gekies.
“Daar was nie ‘n ding wat ons nie as kinders versamel het nie,” vertel Koos – van note tot seëls. Met die jare was daar nie veel tyd om hul seëlversamelings uit te brei nie, maar deesdae geniet dié twee vriende die stokperdjie terdeë.
Hulle het onlangs ook kennis gemaak met Sannette Buys, nog ‘n geesdriftige plaaslike seëlversamelaar.
Sannette vertel sy was vyf jaar oud toe sy begin seëls versamel het, nadat haar pa vir haar ‘n paar seëls gegee het. Onbewus van Trevor en Koos wat dieselfde passie vir seëls het as sy, het haar seun se internetsoektog na plaaslike seëlversamelaars, haar gehelp om kontak te maak met hulle. Deesdae kan die drie ure aaneen gesels oor die stokperdjie wat hulle soveel plesier gee.
Die drie is lid van Sasolburgse Filatelie Vereniging. Sannette stal nie uit by die Sasolburg Ekspo nie, maar sal op 29 Oktober saam met Trevor en Koos by die uitstalling in Sasolburg wees, en nooi hul seëlversamelaars en alle ander belangstellendes om te kom kyk na die prag versamelings. Lede van die Vereniging sal vrae kan beantwoord oor seëlwaardasies, en meer inligting kan gee oor hul eie versamelings.

“Elke seël vertel ‘n storie,” gesels die drie vriende, en verduidelik dat filatelie oor meer gaan as net die versameling van seëls. Vir sommige is dit ‘n stokperdjie, vir ander ‘n belegging.
Tema-versamelings is veral baie gewild, en telkens wanneer daar ‘n geskiedkundige gebeurtenis is, word dit met ‘n seël uitgebeeld, vertel hulle. Van die Suid-Afrikaanse temas wat tans baie gewild is, is die Anglo Boere-oorlog seëls, en seëls wat die 100 jaar bestaan van Afirkaans herdenk. Seëls wissel van goedkoop items tot skaarses wat miljoene werd is, veral dié met drukfoute.
Die drie beveel aan dat belangstellendes by ‘n filatelieklub aansluit. Die naaste klubs aan Parys is in Sasolburg, Welkom en Bloemfontein. ‘n Lonende stokperdjie is dit beslis.
Vir navrae skakel Koos by 082 638 6947 of Trevor by 082 377 8465.



