Local newsNews

Bek-en-klou positief:  Wat nou?

Die entstof wat deur die staat op indeksplase gegee word, beperk verdere verspreiding deur letsels, en onderdruk moontlike draerstatus.

Sodra vee-eienaars letsels of simptome van bek-en-klouseer opmerk moet dit dadelik gerapporteer word by jou veearts wat dit onder die staatsveearts se aandag sal bring. Volgens protokol moet jou bure ook in kennis gestel word.

Toetse:

Bloedtoetse of letseltoetse word gedoen om die siekte te bevestig. Toetskoste word deur die staat gedra.

Uitslag van letseltoetse is binne vier dae beskikbaar, maar bloedtoetsuitslae kan tot 11 weke neem met die staat se agterstand van tussen agt en nege weke. Goedgekeurde private veeartse kan letseltoetse op aanvraag doen, maar die koste is vir die vee-eienaar se eie rekening.
In die Vrystaat word ge-ent op die beginsel van simptome, en word nie gewag vir toetsuitslae nie. Die staat doen inenting op indeksplase waar positiewe gevalle bevestig is.

Die Departement Landbou en Landelike Ontwikkeling sal ‘n span toewys wat die plaas sal besoek, toetse sal doen en sal reël vir inenting. Voorkomende inenting word tans net op uitsondering gedoen waar daar ‘n wesenlike gevaar is vir besmetting soos by melkplase. Na inenting en kwarantynperiode sal die departement weer jou plaas besoek vir opvolgtoetse voordat kwarantyn opgehef word.

Hoe lank is die entstof effektief?

Natuurlike immuniteit is twee tot drie maande, maar positief gediagnoseerde diere bly ‘n draer en kan die siekte weer kry. Die Botswana- entstof se immuniteit is kortlewend en het die dier immuniteit vir agt maande.

Die entstof beperk verdere verspreiding deur letsels, en onderdruk moontlike draerstatus. Omdat Suid-Afrika nog nie endemies vir Bek-en-klouseer verklaar is nie, is entstowwe nie privaat beskikbaar nie, en kan opvolgdosisse vir verhoogde immuniteit nie gegee word nie.

Hier speel rapportering ‘n groot rol, want hoe meer swye daar is oor gevalle, hoe groter word die krisis en is daar nie vooruitsig om die entstof privaat beskikbaar te hê nie.

Die belangrikste is dat kuddes waar uitbrake was geïnfekteer sal bly as daar nie ge-ent word nie.. Alle beeste wat ge-ent is kry die F-brandmerk, en mag geslag maar nie verkoop word nie.

Kwarantyn:

Plase waar daar besmetting is word onder kwarantyn geplaas, terwyl plase binne ‘n 10km radius in kennis gestel word van die besmetting en ook onder voorkomende kwarantyn geplaas word totdat die departement se ondersoeke afgehandel is.

Kwarantyn beteken dat geen beeste in of van die plaas mag beweeg nie, en ook nie geslag of verkoop kan word nie. Normaalweg is kwarantyn ‘n vier maande periode mits geen nuwe gevalle op die indeksplaas aangemeld word nie.

Daar is tans hofsake rondom bek-en-klou en moet jy jouself vergewis van wat regulasies ten opsigte van bek-en-klouseer protokol bepaal. Ongemagtigde skuif en verkoop van vee uit kwarantyn areas of areas waar beweging beperk word, kan die risiko van vervolging en skadevergoedingseise inhou.

Bek en klouseer tipiese sere in beeste se bekke
Die sere in beeste se bekke wat kenmerkend is van Bekk-en-klouseer

Slag van beeste met bek-en-klou:

Beeste met bek-en-klou mag slegs met ‘n Rooikruispermit by geregistreerde slagpale geslag word. Die naaste geregistreerde slagpale vir bek-en-klou beeste is op Welkom,
Vleis en melk van beeste met bek-en-klou is veilig vir menslike gebruik.

Wanneer so ‘n dier geslag word moet die kop, pote en vel vernietig word, en alle kliere uitgehaal en vernietig word. Die vleis van die karkas moet ook gevries word. Gewoonlik kan ‘n bees met bek-en-klou eers 28 dae na twee rondtes se inenting geslag word nadat dit met ‘n rooikruispermit na ‘n geregistreerde slagpale vervoer is.

Hier is samewerking ten opsigte van protokol belangrik en moet deur nie net die vee-eienaar nie, maar ook deur slagpale en veilingshuise nagekom word.

Belangrikheid van biosekuriteit

Die Vaal Eden-distrik het reeds op eie inisiatief verskerpte biosekuriteitsmaatreëls by alle toegangsroetes tot die distrik ingestel waar die onderstel en bande van voertuie wat die gebied inkom, met ontsmettingsmiddel gespuit word. Die ideaal sou wees om die inisiatief ook na ander gebiede uit te brei.

Wat kan vee-eienaars doen:

* Hou jou kudde weg van ander kuddes.
* Verhoed neus-tot-neus kontak.
* Maak seker biosekuriteit word opgeskerp en onthou dit sluit naas voertuie ook jou werkers in wat in en uit sou beweeg, oorpakke en skoene.
* Die effektiefste is 2-stasie bespuiting – dekontaminasie en ontsmetting met ‘n hoëdrukspuit en ontsmetmiddel korrek toegedien volgens aanwysings, gevolg deur ontsmetting byvoorbeeld met droë kalk.
* Nat mis hou groot gevaar vir verspreiding in.
* Omdat die virus tot vyf dae in mense se lugweë kan leef sonder om te heg, kan jy die virus versprei na ander beeste as jy in direkte kontak was met besmette beeste. Mense kan egter nie die siekte kry nie.
* Praat met jou bure en wees eerlik as jy simptome van die siekte by jou vee sien.

Effek van bek-en-klouseer op die mark:

Met die 2022-uitbraak is ‘n drastiese effek op die vleismark gesien grotendeels by speenkallers met voerkrale wat geaffekteer was. Die mark is egter nog tans redelik stabiel.

Hoekom die krisis vir Parys

Met buurdorpe aan beide die Vrystaat en Noordwes kant wat gevalle aangemeld het en gebrekkige bestuur, word ‘n golf van gevalle nou gesien wat oorspoel van ander gebiede om Parys. Praat met jou veearts voordat jy beeste skuif of as jy onseker is oor enige van die maatreëls.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button