Local newsNews

Boere vra beslissende optrede in wat beskryf word as ‘nasionale landbouramp’

Vrystaat Landbou (VL) het die afgelope week sy kommer uitgespreek oor die toenemende uitbreking van Bek-en-Klouseer (BKS) in verskeie streke van die Vrystaat.

‘n Dringende beroep vir die regering se ingryping in die Bek-en-klouseerkrisis is vandeesweek deur Vrystaat Landbou op die nasionale sowel as provinsiale Departemente van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling gedoen.

Daar is gevra vir duidelike, wetenskaplik-gebaseerde kommunikasie aan alle boere oor protokolle, toetsing en rapportering en dat meer gekwalifiseerde veeartsenykundige spanne na geaffekteerde gebiede ontplooi sal met behoorlike beskermende maatreëls.

Vrystaat Landbou sê verder die plaaslike entstofproduksiekapasiteit by Onderstepoort moet herstel word om volhoubare toegang tot effektiewe bek-en-klouseer entstowwe te verseker, en vra vir nood finansiële verligting aan geaffekteerde boere wat aansienlike ekonomiese verliese ly as gevolg van kwarantynbeperkings.

Vrystaat Landbou (VL) sê hy is bekommerd oor die toenemende uitbreking van Bek-en-Klouseer (BKS) in verskeie streke van die Vrystaat. Volgens die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling was daar 23 Oktober reeds 56 bevestigde gevalle in nege uitbrekingsgebiede, insluitend Kroonstad, Viljoenskroon/Vredefort (4 nuwe gevalle), Deneysville, Cornelia/Frankfort, Heilbron, Edenville, Parys, Sasolburg en Odendaalsrus.
Volgens dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder vir VL, toon verslae van geaffekteerde lede ‘n groeiende gevoel van desperaatheid op die grond. “Daar word van boere verwag om streng kwarantynregulasies en biosekuriteitsbeheermaatreëls na te kom, maar hulle ontvang nie die nodige leiding, hulpbronne of professionele bystand van die regering nie.”

‘n Brief wat Vrystaat Landbou van geaffekteerde boere ontvang het, beskryf die situasie as ” ‘n nasionale landbouramp”.

“Veeboerdery is die ruggraat van die Vrystaatse landbou en ‘n sleutelstabiliseerder van die breër landbou-ekonomie. Voortgesette bek-en-klouseer-infeksies bedreig nie net plaasinkomste nie, maar ook nasionale voedselsekerheid en landelike werksstabiliteit,” sê Friedl von Maltitz, vise- president van VL.
“Soos die uitbreking versprei, is beide binnelandse en uitvoermarkte in gevaar, met langtermyn-implikasies vir die veewaardeketting en Suid-Afrika se geloofwaardigheid as ‘n handelsnasie,,” sê Von Maltitz.

Von Maltitz het bevestig dat Vrystaat Landbou alle wettige bewegingsbeperkings en biosekuriteitsprotokolle kragtens die Wet op Dieresiektes (Wet 35 van 1984) ten volle ondersteun, en versoek weer boere om die volgende maatreëls na te kom:
– Beperk die beweging van gesplete hoefdiere.
– Handhaaf streng biosekuriteitsbeheer en akkurate bewegingsrekords.
– Plaas nuwe vee vir 28 dae in kwarantyn.
– Rapporteer enige verdagte simptome onmiddellik aan jou plaaslike Staatsveeartsenykundige Kantoor.

“Hierdie maatreëls kan slegs effektief wees as hulle gepaardgaan met gekoördineerde implementering en werklike ondersteuning vir boere op die grond,” het von Maltitz gesê. “Die uitbreking het ‘n kritieke punt bereik. Sonder besliste, verenigde ingryping sal die gevolge veel verder strek as veeverliese en lewensonderhoud, voedselproduksie en nasionale stabiliteit bedreig.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button