Elf in hof na brutale aanval wat plaaswerker sy lewe kos
Die beskuldigdes is Saterdag binne ure na die aanval op 'n plaas in die Heilbron-distrik gearresteer.
Elf van die 13 verdagtes wat Saterdag binne ure na ‘n brutale plaasaanval in die Heilbron-distrik gearresteer is, het vanoggend in die Heilbronse Landdroshof verskyn vir onder meer die moord op ‘n plaaswerker, en verkragting van sy 34-jarige vrou. Die vrou is ook tydens die aanval met ‘n mes gesteek.
Polisiewoordvoerder kaptein Loraine Earle sê die beskuldigdes wat tussen die ouderdom van 20 en 38 is, bly in aanhouding totdat hulle volgende week weer voor die hof sal verskyn vir formele borgaansoeke.
Naas die klagte van moord, poging tot moord en verkragting, staar hulle ook klagte van veediefstal en die besit van gesteelde vee en eiendom in die gesig, nadat die polisie met hul arrestasie beslag gelê het op 22 skape, ’n vuurwapen, ‘n minibus en huishoudelike items, het Earle bevestig.
Vinnige en gekoördineerde optrede lei tot arrestasie
Die waarnemende kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Vrystaat, generaal-majoor Solly Lesia, het Saterdag die vinnige en gekoördineerde optrede van die polisie, die boeregemeenskap, private sekuriteitsondernemings asook alle betrokke rolspelers geloof wat gelei het tot die arrestasie.
“Hierdie vinnige reaksie en suksesvolle inhegtenisneming van die verdagtes toon wat bereik kan word wanneer die polisie en gemeenskap saamwerk. Ons sal voortgaan om beslissend op te tree teen enige vorm van gewelddadige misdaad,” het Generaal-majoor Lesia gesê.
Die plaasaanval in die Heilbron-distrik volg minder as drie weke ná ‘n voormalige werknemer ‘n 70-jarige boer, sy 68-jarige vrou en hul 34-jarige dogter op 12 Oktober op hul plaas langs die R500 (Parys/Fochville)-pad in die Buffelshoek-gebied aangeval en beroof het.
Malandela George Mbela (48) het homself ‘n dag na die aanval by die Parys-polisiestasie gaan oorgee waar hy deur lede van die Buffelshoek SAPD in hegtenis geneem is.



