Germandt bring Somer Kersfees na Parys
Germandt Geldenhuys het bekendheid verwerf vir sy rol as Louis Koster in die TV-sepie, Binnelanders, en het ten bate van Solidariteit Helpende Hand opgetree.
Voor ‘n volgepakte saal het die bekende akteur en sanger, Germandt Geldenhuys Saterdagoggend ‘n Kersfees in November na Parys gebring.
Germandt, veral bekend vir sy rol as Louis Koster in die TV-sepie Binnelanders, se optrede by Najaarsrus was ten bate van die plaaslike Solidariteit Helpende Hand-tak, met die ondersteuning van Avbob.

Met van Creedence Clearwater Revival se Have you ever seen the rain? tot Funicili Funicula wat sy veelsydigheid op die opera-verhoog gewys het, die immergewilde Karoonag van Coenie de Villiers, en bekende Kersgunstelinge, het Germandt sy gehoor op ‘n musikale reis van sy loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf geneem.


‘n Heerlike ete-bederf het die kleurvolle en luisterryke oggend afgesluit.

Meer oor Solidariteit Helpende Hand:
Solidariteit Helpende Hand is ‘n selfstandige organisasie met Christelike waardes binne die groter Solidariteit-groep wat daarna streef om sterk, selfstandige gemeenskappe te bou.
Hulle bied verskeie nasionale projekte aan wat gemik is op kleuters, skoliere, gesinne, bejaardes en gestremdes. Dit word aangevul met projekte deur vrywilliger-takke.
Taklede dien as Helpende Hand se hande en voete in die gemeenskap.
Behoeftes in die gemeenskap word só geïdentifiseer en dan deur die tak aangespreek waar moontlik.
Al wat jy hoef te doen om die werk van Solidariteit moontlik te maak om op soveel maniere ‘n verskil in die gemeenskap te maak, is om so min as R50 ‘n maand by te dra vir Solidariteit Helpende Hand.
As jy graag meer wil weet van die organisasie, en hoe jy betrokke kan raak, skakel vir Matty Last by 072 267 9758. Besoek ook www.vrystaathand.co.za vir meer inligting oor hul werksaamhede in die Vrystaat.



