Local newsNews

Geen gesplete hoefdiere by vanjaar se Nampo Oesdag

Graan SA sê die besluit is eenparig geneem tydens 'n vergadering tussen NAMPO, Graan SA en verskeie telersgenootskappe, ná deeglike risikobepaling en oorlegpleging met relevante rolspelers.

Geen gesplete hoefdiere sal by vanjaar se NAMPO Oesdag wees wat van 12 tot 15 Mei by Nampo Park buite Bothaville gehou word. Dit sluit beeste, skape, bokke en varke in – spesies wat bekend is daarvoor dat hulle die Bek-en-klouseer (BKS)-virus kan dra en oordra.

Dié besluit volg op groeiende kommer oor die Bek-en-klouseerkrisis in die land.

Bek-en-klou brandpunte

Die Vrystaat het teen verlede week reeds 291 bevestigde gevalle van BKS gehad volgens die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling.

Van die provinsie se grootste brandpunte is Viljoenskroon/Vredefort (52), Parys/Vredefort (45), Deneysville/Sasolburg (43) en Cornelia/Frankfort (27).

Daar is ook gevalle in Marquard/Senekal (14), Hlohlolwane (Clocolan) 14, Kroonstad (13), Qwaqwa/Harrismith (12), Vrede/Memel (12), Edenville (11), Reitz/Lindley (9), Warden (8), Heilbron (7), Odendaalsrus/Welkom/Ventersburg (7), Bethlehem (6), Bothaville (4), Rouxville (2) en Edenburg (2).

Besluit na deeglike risikobepaling geneem

Graan SA sê die besluit is eenparig geneem tydens ‘n vergadering tussen NAMPO, Graan SA en verskeie telersgenootskappe, ná deeglike risikobepaling en oorlegpleging met relevante rolspelers.

“Bek-en-klouseer het nou letterlik naby aan die huis gekom. As beskermers van biosekuriteit kan ons nie die risiko loop om ‘n platform te skep waar bedreigings nie doeltreffend beheer kan word nie,” sê Danie Minnaar, voorsitter van die NAMPO Oesdagkomitee.

Wat beteken dit vir telers en besoekers?

  • Geen gesplete hoefdiere (beeste, skape, bokke, varke) sal by NAMPO 2026 toegelaat word nie, maar diere wat nie ‘n risiko inhou nie, soos perde, honde en pluimvee, sal toegelaat word, onderhewig aan streng biosekuriteitsmaatreëls.
  • Alle diere en voertuie wat by diereverwante aktiwiteite betrokke is, sal gespuit en ontsmet word.
  • Praktiese biosekuriteitsmaatreëls vir besoekers word tans beoordeel en verder verfyn.
  •  Biosekuriteitsbewusmakingsinisiatiewe sal by NAMPO geïntegreer word.
  •  Telersgenootskappe sal steeds hul uitstallings beman en is aangemoedig om innoverend en kreatief te wees in hoe hulle die genetiese voordele, prestasiedata en produksiewaarde van hul rasse uitstal – selfs sonder die fisiese teenwoordigheid van diere.

Besoekers

Maatreëls vir besoekers by Nampo word tans verfyn om te verseker dat niemand onbewustelik die virus na hul
eie plase terugneem nie.

Waarskuwing

Die departement herinner boere en die publiek dat bek-en-klouseer ’n aanmeldbare siekte is. Ingevolge die Wet op Dieresiektes is dit ’n strafbare oortreding om vermoedelike gevalle nie aan te meld nie. Verder is dit onwettig om enige diere vanaf kwarantynareas te verskuif sonder die nodige permitte en dokumentasie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button