17 Skoolkinders beseer in ongeluk op N4
Die ongeluk volg nadat verskeie leerders in Januarie gesterf het in 'n grusame taxi-ongeluk in Vanderbijlpark.
In ‘n poging om wetstoepassers te ontduik, het ‘n 9–sitplek Toyota Condor wat 17 skoolkinders vervoer het, vanoggend op die N4 in die Atteridgeville-omgewing in Tshwane, met ’n Mercedes-Benz gebots. Die ongeluk het gevolg toe die bestuurder na bewering op ’n ou grondpad afgedraai het voordat hy weer op die snelweg aangesluit het.
Volgens inligting het hy nie ’n geldige rybewys gehad nie, het die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer in ‘n verklaring gesê.
Al 17 leerders is met verskillende grade van beserings van die toneel na nabygeleë hospitale vervoer.
Die voorval volg kort nadat verskeie leerders in Januarie hul lewens verloor het toe hulle onderweg skool toe in ‘n grusame taxi-ongeluk in Vanderbijlpark betrokke was.
Die Gautengse LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, het haar kommer oor die jongste voorval uitgespreek. Sy sê die roekelose optrede wat met die voorval gesien is, is onaanvaarbaar veral wanneer dit die lewens van kinders raak. Sy sê verder skoolvervoeroperateurs dra ’n verantwoordelikheid om die veiligheid van leerders te verseker.
Die LUR het ook klem daarop gelê dat wetteloosheid op paaie nie geduld kan word nie.
LUR Diale-Tlabela het die oproep vir verskerpte wetstoepassingsoperasies herhaal om onwettige en onpadwaardige skoolvervoervoertuie van die pad af te kry, en volle nakoming van padveiligheidsregulasies te verseker.



