Nala munisipaliteit in dieselfde Eskom skuldbootjie as Ngwathe
Gemeenskappe mag nie gyselaar gehou word as gevolg van munisipaliteite se swak bestuur nie, het AfriForum gesê in antwoord op openbare kennisgewings van Eskom se voorgenome optrede by munisipaliteite met enorme agterstallige skuld aan die kragreus.
Die Nala munisipaliteit (Bothaville, Kgotsong, Wesselsbron, Monyakeng en Balkfontein) wurg soos die Ngwathe Munisipaliteit (Parys, Vredefort, Koppies, Heilbron en Edenville) aan ‘n enorme Eskom-skuldlas. In Nala se geval beloop die skuld al meer as R1,2 miljard, terwyl Ngwathe al by die R3 miljard aan die kragreus verskuldig is. Soos in Ngwathe se geval, het Eskom ook vir die Nala munisipaliteit die afgelope week ‘n openbare kennisgewing uitgereik dat kragtoevoer na dié munisipaliteite onderbreek of verminder kan word weens die uitstaande skuld.
Die burgerregte organisasie AfriForum meen egter dat inwoners nie gestraf mag word as gevolg van dié munisipaliteite se Eskom-skuld nie. Die organisasie het aan beide Ngwathe en Nala ’n skrywe gerig om antwoorde te eis oor hoe die munispaliteite van plan is om hierdie skuld te delg.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, hou die Nala-en Ngwathe munisipaliteite se finansiële wanbestuur ’n direkte gevaar in vir inwoners en ondernemings wat hul kragrekenings getrou betaal. Pretorius meen dat dit ook ’n verdere bewys is van die munisipaliteite se deurlopende versuim om hul grondwetlike en statutêre verpligtinge na te kom.
Artikel 152 van die Grondwet bepaal dat munisipaliteite basiese dienste op ’n volhoubare wyse aan gemeenskappe moet lewer en ’n veilige en gesonde omgewing moet bevorder. Elektrisiteitsvoorsiening is ’n belangrike munisipale diens wat menswaardigheid, ekonomiese deelname, gesondheidsorg en openbare veiligheid bevorder. Die munisipaliteite se wanbestuur en versuim om hul skuld te delg bedreig hierdie verantwoordelikheid, het Pretorius benadruk.
Daarbenewens stel die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur 56 van 2003 dit duidelik dat munisipale leierskap verplig is om gesonde finansiële bestuur te verseker, deursigtigheid te bevorder en streng beplanning toe te pas om dienslewering te verbeter, het Pretorius bygevoeg.
AfriForum het in sy skrywes aan die munisipaliteite aangedring dat:
- ’n volledige verduideliking gegee word van hoe die skuld aan Eskom opgehoop het;
- ’n geloofwaardige en uitvoerbare terugbetalingsplan;
- die versekering dat inwoners wat getrou hul munisipale rekeninge betaal, beskerm gaan word; en
- ’n aanduiding van watter stappe gedoen word om verdere skuld te voorkom.
“Ons gemeenskappe mag nie gyselaar gehou word as gevolg van die munisipalitet se swak bestuur nie,” het Pretorius gesê.
Die jongste verwikkeling rondom die Eskom-kennisgewings kom boonop te midde van AfriForum se uitgerekte regsgeding met die Ngwathe munisipaliteit oor swak dienslewering. Die Hooggeregshof het reeds in Junie 2025 in AfriForum se guns beslis en bepaal dat die munisipale raad moet ontbind en dat die provinsiale regering by die munisipaliteit moet ingryp.
Die Hooggeregshof het intussen verlede maand beslis dat dié hofbevel nou – ondanks die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl by die Konstitusionele Hof – onmiddellik geïmplementeer moet word. Die regter het boonop benadruk dat daar ingevolge die Grondwet ’n verpligting is om by dié munisipaliteit in te gryp.
Ngwathe het na die uitspraak, soos met die vorige hooggeregshofuitspraak in 2025, aangedui dat hy wil appèlleer.
Pretorius het in ‘n verklaring van AfriForum gekap na die Ngwathe munisipaliteit oor sogenaamde wanbesteding van belastingbetalers se geld. Sy sê hoewel die hof reeds telkens bepaal het dat dienslewering in Ngwathe onvoldoende is en ingryping vereis, hou die munisipaliteit steeds aan om teen hofuitsprake te appelleer.
“Ngwathe kies magsbeheer bo die herstel van dienslewering en finansiële dissipline. Intussen gaan hulle voort om geld te mors op litigasie en appèlle eerder as om hul finansiële verpligtinge teenoor Eskom na te kom. Hierdie benadering dreig nou om inwoners dubbel en dwars te straf, want ondanks inwoners se getroue betaling kan hulle dalk eersdaags sonder krag gelaat word, het Pretorius gesê.



