Keurige koffie in ‘n harmonie van hoop en elegansie
Hul liefde vir Platõ Coffee was hul inspirasie om ook die brand naam na Parys te bring,
Stylvol is hoe jy Corner Café op h/v Breë- en Kruisstraat ervaar waar jy met ope arms en die reuk van koffie verwelkom word as jy by Platõ Coffee – die hart van die onderneming instap. “Dit is ‘n plek wat mense bymekaar bring in die warmte van ‘n gesellige ruimte waar die tema van hoop deurtrek tot by die sypaadjie-tafels waar mense saam sit en kuier,” gesels eienaars Hannes en Inance van der Merwe.
Saam met Platõ Coffee huisves dié onderneming ook die handelsname LinaLucca en Milvado wat albei ‘n vars, nuwe belewenis van aardsheid en elegansie bring na die rustigheid van dié Vrystaatse dorp, Parys, aan die soom van die Vaalrivier.
Inance het die LinaLucca klerereeks ses jaar gelede begin. Die ontwerpreeks fokus op natuurlike produkte met die klem op linne en kurk. Geïnspireer deur die Italiaanse dorp Lucca in Tuscany met sy unieke estetika, het Inance haar stempel op die reeks afgedruk.
Inance wat eintlik ‘n meganiese ingenieur van beroep is, het grootgeword met haar ouers wat ‘n gastehuis bedryf het, en haar sus wat ‘n kunstenaar is. Die mooi van die lewe is van jongs af deel van haar DNA.
Die naam Lina beteken draer van hoop – en Lucca – draer van lig. Die betekenis word uitgedra in die materiaal en ontwerp van LinaLucca.
Die Van der Merwes boer op ‘n plaas tussen Kroonstad en Parys. Hannes is ‘n landbou ekonoom, maar die handigste mens wat ek ken, vertel Inance trots.
Saam het hulle die onderneming gdroom, beplan en hande gevat met die mense van Parys en die munisipaliteit om ‘n droom realiteit te maak.
Deel van die droom is Milvado – hul boerdery se trots, vertel hulle. Hoewel hulle ‘n gemengde saai en beesboerdery het, het hulle uit nuuskierigheid ‘n granaatboord geplant. In 2025 is hulle beloon met die eerste groot oes. Vanjaar het Hannes sy hand aan ‘n Granaat Cordial gewaag wat van die eerste proeslag ‘n treffer was.

Hulle boer ook met pekanneute en is Milvado die keur van plaasprodukte wat spesiaal na die tafel gebring word met keurigheid en ‘n upmarket pantry.
Beide Hannes en Inance se liefde vir Platõ Coffee was hul inspirasie om ook die brand naam na Parys te bring en is dit slegs die tweede Platõ Coffee wat sy deure in die Vrystaat oopmaak, maar een van 147 winkels van dié gewilde naam landwyd.

Hier kry jy gespesialiseerde koffie trou aan die slagspreuk – Sculpted coffee – community included.
Voeg daarby die verskeidenheid van ligte etes, freezos en ander spyskaart-bederf wat jou keer op keer sal terugroep na hierdie hoek wat mense bymekaar bring met koffie wat sentraal staan in ‘n harmonie van hoop en elegansie.



