Groot stryd wag môre op Hoërskool Parys se rugbyspanne
Drie van Hoërskool Parys se rugbyspanne speel Saterdag in die finaal van die Valke Afdeling-4 liga.
Saterdag se skitter vertoning op die rugbyveld het Hoërskool Parys se plek geboek in die finaal van die Valke Afdeling 4-liga.
Die oorwinningstafel is vroegoggend reeds vir Parys gedek toe die o15s Panorama verslaan het met ‘n weghol wen van 67-12.

Daarna het ook die o14’s hul wedstryd teen Panorama gewen met ‘n telling van 32-0 in Parys se guns, en was die eerste span se oorwinning oor Alberton High later die middag, die spreekwoordelike kersie op die koek vir ‘n dag wat die vreugdevure hoog laat brand het vir Parys. Die eerste span se eindtelling was 31-7 in Parys se guns.
Die finaal word hierdie naweek, Saterdag 27 Julie beslis. Parys se o15’s sal teen Carel de Wet speel. Parys se eerste span speel teen Die Anker, en die o14’s gaan Suiderlig die stryd aansê.




