Museum vol onthou vir oudleerders en onderwysers van Chris van Niekerk-skool
Met Saterdag se opening wat deur oudleerders en onderwysers bygewoon is, is daar saam die skoollied gesing en is dit ook opgeneem.

Oudleerders en onderwysers van Chris van Niekerk-skool in Vredefort het die afgelope naweek ‘n unieke museum in die dorp geopen wat die storie vertel van die geskiedenis en prestasies van hierdie skool oor baie jare. Die skool was op 29 Augustus 139 jaar oud.
Die museum is ingerig in ‘n vertrek by Kosmos, reg langs die OK in die dorp se hoofstraat.
Hier is talle foto’s, ererolle, kantoortoerusting van die skool uit vervloeë dae, jare se skoolregisters en selfs ‘n reënvalregister wat tot in die sestigerjare bygehou is. Daar is matrieksertifikate van jare gelede, bekers, lêers met koerantknipsels van prestasies van die skool se leerders en onderwysers.
Van die oudleerders, onderwysers en belanghebbendes wat Saterdag se opening bygewoon het, is agter van links: Roelie van der Merwe, Lina van der Merwe, Erna Rademan, Alfred Purchase, Juan Greeff en Barend Wenting. In die tweede ry is Annetjie van Wyk, Elna Saayman, Miekie Steenkamp, Org Gericke en Corlia Wentink. Voor is Stephan du Toit, Claudette Smook, dr. Ernst Breedt, prof. Sybrand Strauss en Heila Purchase.
Prof. Sybrand Strauss, self ook ‘n oudleerder gesels oor kommandant Chris van Niekerk na wie die skool vernoem is tydens die opening van die museum.
Hier kan jy ou voorgeskrewe Afrikaanse en Engelse boeke koop waarmee weer fondse ingesamel word vir die museum. Dit is ‘n museum wat ‘n storie vertel van die skool wat vir baie jare deel is van die gemeenskap. Met Saterdag se opening wat deur oudleerders en onderwysers bygewoon is, is daar saam die skoollied gesing en is dit ook opgeneem. Oudonderwysers soos Erna Rademan en Miekie Steenkamp het kom inloer, en het prof. Sybrand Strauss, ook ‘n oudleerder, kom vertel van kommandant Chris van Niekerk na wie die skool vernoem is, en wie sy familie geken het. Ook dr. Ernst Breedt van die Noordwes-Universiteit en ook ‘n oudleerder, was daar. ‘n Oggend wat daar saam gesels en teruggedink kon word aan hul skooldae by Chris van Niekerk, en waar besoekers aan die dorp en oudleerders voortaan ook toegang sal hê tot hierdie kosbare herinneringe.