Kluisenaar se marmer-grafbeeld skandelik geskend
In Andries se testament is bepaal dat sy besittings verkoop moes word en al die geld gebruik moes word vir sy grafsteen

Die bekende marmer grafsteen op die laaste rusplek van die kluisenaar Andries Petrus Hendricks is een van die grafstene in die Vredefort-begraafplaas wat al by herhaling oor jare deur vandale geskend is. Die lewensgrootte figuur van Italiaanse marmer, omring met pilare wat in ‘n halfsirkel staan, is onthoof, met die kop wat in nog ‘n beskadigde graf voor die Hendricks-graf lê. Selfs metaalplaat wat eens op ‘n tyd op die beeld se voetstuk aangebring was met die woorde, “Gone and forgotten” soos Hendricks dit in sy testament bepaal het, is weg.
‘n Tragiese gesig van die grafskending in dié begraafplaas, maar wat ook al meer in ander begraafplase gesien word.
Die afgelope week was die gemeenskap van Vredefort opnuut verslae oor die talle grafstene wat omgegooi en selfs gebreek is in die jongste plundering wat vermoedelik verlede week al gebeur het.
Oor die besonderse grafsteen van Andries Hendricks en sy kluisenaarsbestaan in ‘n fort net buite Vredefort is al baie geskryf oor jare. Hendriks is vermoor op 12 Mei 1981.
Andries is deur die Sotho-bevolking die bynaam Majaraposo (vrylik vertaal “die man wat die possak dra”) gegee, en het toe ‘n plaas in die Vredefort -distrik gekoop. Hy was ‘n eenkant-mens met min vriende, Daar word vertel dat hy eksentriek was, skuins beneuk en baie suinig, maar ook hardwerkend. Hoe ryk hy was, is nie seker nie, Mense wat hom nie geken het nie, het gereken dat hy arm moes wees.omdat hy ysterpale en ander benodigdhede met groot moeite met die fiets na sy plaas vervoer het.
Hy het ‘n obessie gehad om ‘n fort te bou wat hom sou kon beskerm as hy aangeval sou word. Toe sy plaas verkoop is, was die voorwaarde dat hy tyd gegun sou word om die fort klaar te bou voordat hy die plaas ontruim. Hiervoor het hy ‘n smal strook serwituut op die plaas behou.
Hy was ‘n opgaarder van formaat, en het gespog dat sy kragopwekker die hele Vredefort van krag sou kon voorsien.
Ten spyte van die fort en sy obsessie om homself te beskerm, is Andries deur sy huishulp en haar seuns vermoor, en sy lyk in ‘n rioolput gekry wat hy laat bou het toe hy vir water geboor het. Die huishulp en haar seuns is die doodstraf opgelê vir die moord.
In Andries se testament is bepaal dat sy besittings verkoop moes word en al die geld gebruik moes word vir sy grafsteen wat toe inderdaad gedoen is. Die testament het ook bepaal dat net genoeg geld uitgehou moes word om weekliks blomme op die graf te sit. Maar blomme is daar al vir etlike jare nie meer op die graf nie.

Die beeld is in 2009 deur vandale geskend toe die kop en een hand afgekap is, en van die kleiner beelde gebreek is. Drie seuns is vir die grafskending gevonnis. Die beeld is daarna herstel, maar is sedertdien weer gevandaliseer, selfs nog voor die plundertog die afgelope week in dié begraafplaas.