Ons geliefdes se grafstene gebreek: Wie doen so iets?
Totale verslaentheid oor skade in dorp se begraafplaas

Inwoners van die Vrystaatse dorp Vredefort het Maandag verslae in die dorp se begraafplaas gestaan – woordeloos oor derduisende se skade wat hier aan talle grafte aangerig is. Rye grafte waar grafstene omgegooi is – baie daarvan gebreek. Maar wat hier gedoen is, is meer as skade in randwaarde. Dit is emosionele seer vir mense wie se ouers, kinders of familie hier begrawe is.
Hoe beskryf jy die hartroerende gesig wat Maandag hier in die begraafplaas gesien is waar ‘n bejaarde pa sy dogter se grafsteen moes regop tel. Dit is die derde keer dat sy dogter se grafsteen beskadig word, sê hy, sy kop geboë terwyl hy en ‘n vriend met grawe die steen regskuif.
Wie doen so iets?
Die vermoede is dat die grootskaalse plundering in die Vredefort-begraasplaas dalk al verlede week gebeur het maar eers vroeg vandeesweek ontdek is. Dit is ook nie die eerste keer dat vandale hier groot skade aanrig nie.
Mense het verslae Maandag gaan kyk na die skade wat vandale aan geliefdes se grafstene aangerig het.
‘n Beloning van R10 000 is uitgereik vir inligting sal sal lei tot die suksesvolle arrestasie van diegene wat vir hierdie hartseer verantwoordelik was. Mense met inligting is gevra om a.o Petzer te skakel by 082 301 3048.