Jak laat die voete roer oor die kerksaal-vloer
Nou nog is 'n draai by die rivier deel van 'n besoek aan Parys, en verken hy graag die dorp se strate wanneer hy en sy ma saam gaan tee drink by een van die interessante plekke in die dorp,

Die voete van 180 dames en enkele here het Saterdag geroer oor die kerksaal-vloer toe Jak de Priester se stem en sy kosbare onthou-stories van sy grootwordjare in Parys by die NG Wes-gemeente gehoor is. ‘n Saal vol bekende gesigte. Mense wat hom kleintyd geken het nog voor hy begin sing het. Sommige skoolmaats, ander die ouers van skoolmaats, en ook sy ouers – Carel en Louise, wat steeds in die dorp gevestig is.
Die gasvroue van die damestee by die NG gemeente Parys-Wes, saam met Jak de Priester (middel agter).
Vir Jak was Saterdag se optrede ‘n besondere belewenis en emosionele reis na gister. “My hele grootwordjare lê in hierdie dorpie langs die Vaalrivier vasgevang,” gesels hy.
“Daar is soveel mooi herinneringe aan die dorp. Die rivier, die strate waar ek as kind met my motorfiets gery het, en die tennisbane by die Buiteklub,” vertel hy.
Nou nog is ‘n draai by die rivier deel van ‘n besoek aan Parys, en verken hy graag die dorp se strate wanneer hy en sy ma saam gaan tee drink by een van die interessante plekke in die dorp,
Van die staaltjies wat hy Saterdag gedeel het was van sy skoolherinneringe by Hoërskool Parys, toe hy en sy beste vriend, Frank Streicher, hoërskool toe is. Hoe mooi die matriekmeisies vir die jong standerd sessies was, en van sy eerste sokkie waar hy kon dans met die mooie Carola Weber wat toe in matriek was, en twee koppe langer as hy. Dit was ‘n oggend van baie lag, maar ook die deel van die dieper lewenswaarhede wat soms ook ‘n traan bring. ‘n Oggend van mooi gedekte tafels en als wat lekker is. Wat jou koppie vol geskink, en jou hart laat oorloop het met die woorde en klanke van Jak wat op sy eg De Priester-manier dit weer kon regkry om die voete en hartsnare te roer.
Jak en sy vrou, Michelle en hul drie kinders woon nou in Somerset-Wes. Sy kuier in Parys die naweek het gevolg op ‘n besige week met verskeie optredes in Bloemfontein, Potchefstroom, Parys, Pretoria en by Emperors Palace waar hy saam met kunstenaars soos Ruhan du Toit, Nedine, Rocco de Villiers en Ray Dylan opgetree het.
Die oggendtee in Parys is aangebied deur die Diensgroep vir Barmhartigheid van die NG Wes-gemeente as fondsinsameling vir hul uitreik in die gemeenskap maar ook na die jeugsorgsentrums in Sasolburg en Bethlehem.