Hy’t gekom om te kom steel
Dit is nou meer as ooit nodig dat jy bedag is op wat in jou buurt aangaan

Dis was Woensdagoggend. Nog nie behoorlik 10:00 nie. Die verdagte het oor die bure se heining gespring en toe is hy in die omheinde erf in.
Hy’t aan die agterkant van die huis oral gesoek na ‘n deur of venster waar hy kon in. Gelukkig was die huis gesluit, maar het hy nietemin by ‘n venster wat nie op knip was nie, met ‘n stok twee skootrekenaars in die kantoorgedeelte van die huis nader getrek.
Op die kameras sien jy sy gesig duidelik. Hoe hy rondkyk, vat wat hy wil hê en dan met dieselfde pad wat hy gekom het, weer oor die heinings spring.
Dit is die realiteit van die misdaad wat vandag gesien word.
Nie eens die voertuig wat geparkeer was onder die afdak en daarop kon dui dat daar mense in die huis in Readingstraat was, het hom afgeskrik nie.
Oomblikke nadat hy weg is, stap die bejaarde vrou wat ook ‘n inwoner van die huis is, uit tuin toe. Omdat sy tuis was, was die alarm nie geaktiveer nie.
Die hele perseel is omhein, daar is 14 kameras en buite-sensors. Ten spyte daarvan het niks die verdagte gehinder in sy duidelike misie om te vat wat nie aan hom behoort nie.
Jou hare rys as jy dink – wat as die deure nie gesluit was nie?
Die tendens waar inbrekers vat waarop hulle die vinnigste hul hande kan lê, word al meer gesien.
Wees daarom baie versigtig – bêre waardevolle items ver buite bereik. Moenie beursies, selfone en sleutels laat rondlê nie. Hou waar jy kan vensters toe en aktiveer jou alarm wanneer jy nie tuis is nie.
En moenie goed in jou erf laat rondlê wat maklik gebruik kan word om waardevolle items binne bereik te kry nie.
Die naweek is daar ook weer ‘n dubbelkajuit Toyota bakkie in die dorp gesteel.
Wees waaksaam. Misdaad is ‘n harde werklikheid en gebeur helder oordag.