Local newsNews

“Ek bid vir geregtigheid – nie net vir Kenny nie, maar vir die gemeenskap van Parys”

Borg geweier, maar die letsels van seer lê diep in harte

Landdros Porogo het vanoggend in die Parys-landdroshof borg geweier aan Blonde Motale en Piet Mbele, die twee mans van die Tumahole-woonbuurt wat tereg staan op die wrede moord van die 72-jarige Kenny Browne wat met ‘n plastieksak in sy huis in Parys versmoor is. Een van die Methodiste kerk se lidmate Margie Frare, het hom dood in sy huis in Fochstraat gekry, die Sondagoggend van 3 Maart, toe sy onraad vermoed het omdat hy nie soos gewoonlik die Sondagoggend by die kerk was waar hy altyd gehelp het met reëlings vir die erediens.

Hy is vermoor vir net sy selfoon, beursie, ‘n gasbottel en sy skootrekenaar.

Sy selfoon asook die selfoon van nog ‘n bejaarde vrou van Parys wat onlangs in haar huis oorval en aangerand is, is in besit van die verdagtes gekry. Die polisie het ook beslag gelê op Kenny se skootrekenaar, asook ‘n ander skootrekenaar en  elektroniese ware wat oënskynlik deur die verdagtes verkoop is.

Wyle Kenny Browne

Motale en Mbele sal in aanhouding bly tot hul volgende hofverskyning op 7 Junie. Beide het ‘n lang lys van vorige veroordelings en staan Motale ook tereg vir die huisroof in Loopstraat in April vanjaar waarin ‘n bejaarde vrou in ‘n soorgelyke modus operandi in haar huis aangeval is toe hy die dag as tuinier vir haar gewerk het.

Onder Motale se geskiedenis van vorige veroordelings is onder meer ook verskeie sake van huisbraak en diefstal asook roof. Mbele is in die verlede verskeie keer gevonnis vir ontsnapping uit aanhouding en versuim om aan paroolvoorwaardes te voldoen.

Van die vorige veroordelings dateer so ver terug as 1994, en het hy selfs probeer wegkom by die Tumahole-polisiestasie nadat hy gesoek was vir ‘n roof in Parys. Na sy en Motale se arrestasies is vasgestel dat hy ook betrokke was by Kenny se moord.

Voor die aanvang van die hofverrigtinge het lede van die Methodiste kerkgemeenskap in Parys en Tumahole, waaronder ook  talle bejaardes, met plakkate vreedsaam voor die hof gestaan om te vra dat borgtog nie aan die beskuldigdes gegee sal word nie. Dit was duidelik dat die dood van Kenny diep letsels in hierdie gemeenskap gelaat het, veral onder weerlose bejaardes by wie hierdie sinnelose en wrede daad vrees  geskep het  met bejaardes wat toenemend die afgelope maande deur misdadigers geteiken is.

“Hy het nie verdien om so te sterf nie,” het Cathy du Plessis, hulpleraar van die Methodiste Kerk in Parys, kort na Kenny se moord gesê. “Hy het ‘n hart so groot soos die wêreld gehad, en was ‘n kind van die Here deur en deur.” het sy bygevoeg.

“Ons kan net bid dat die liewe Heer geregtigheid sal laat geskied nie net vir Kenny nie, maar ook vir die res van die gemeenskap van Parys. Ek wil nie hê dat enige ander familie hierdeur moet gaan nie. Ek wil nie hê dat enigeen ‘n familielid op hierdie manier moet verloor nie. Dit laat ‘n mens vertroue in mense verloor. Maar as ek vanoggend kyk na die gemeenskap van Parys, en ek kyk na die mense wat so lief was vir Kenny, en vir wie hy so baie beteken het, het ek weer hoop,” het Kenny se niggie, Felicia, voor die hofverrigtinge gesê.

Kenny was besonder geliefd nie net onder lidmate van die gemeente nie, maar ook in die gemeenskap van Parys. Sy vriendelike en hulpvaardige geaardheid was goed bekend. Hy het vir jare by Mica gewerk en was ook voorheen in die meubelbedryf werksaam.

Hy was sy lewe lank by die kerk betrokke, maar het hom na sy aftrede veral toegespits op die kerk se werksaamhede. Omdat daar baie bejaarde lidmate in die gemeente is, het hy hom oor hulle ontferm. het Cathy gesê. Hy het oral gehelp waar hy kon, en bejaardes van die gemeente wat nie meer kon bestuur nie, dikwels geneem waar hulle moes wees.

Hy het gelewe  vir sy geloof, ‘n grapjas, ‘n omgeemens en iemand wat nie ‘n vlieg sou skade aandoen nie. Sy ongelooflike kennis van die dorp en sy mense het jou altyd opgeval.

Landdros Porogo het in sy uitspraak verwys na die belang van die gemeenskap en gesê dat die hof kennis neem van die gemeenskap se teenwoordigheid by die hof. Hy het ook gesê dat die beskuldigdes se vorige veroordelings en geskiedenis van oortredings duidelik gewys het dat hulle weerlose bejaardes teiken wie nie hulself kan beskerm nie. Hy het ook verwys na die saak van huisroof waarvoor Motale net ‘n week tevore in die hof was, en Mbele se geskiedenis van ontsnappings. Landdros Porogo het gesê dat daar geen buitengewone omstandighede deur die verdediging voor die hof gebring is op grond waarvan borgtog toegestaan sou kon word nie.

Die staat het onder meer aangevoer dat die beskuldigdes se misdaadgeskiedenis wys dat hul geen respek vir die hof of die regstelsel het nie.

Beide het ‘n inkomste as tuiniers verdien.

Me Twala het namens die staat verskyn, en me. Risuna vir die Regshulpraad namens die verdediging.

Motala en Mbele se arrestasie is gemaak deur speurders van Parys, lede van Misdaadvoorkoming en Misdaad Intelligensie na knap speurwerk. Die ondersoekbeampte vir die moord is a.o. Jaco Venter, terwyl sers. Tami Nqai die saak van huisroof ondersoek.

 

 

 

 

Related Articles

 
Back to top button