Local newsNews

Kleintyd se skryfdroom met liefdesverhaal in Texas bewaarheid

Die lewe het Genevieve een ding geleer - droom groot, want elke stuikelblok is die eerste tree na 'n oplossing.

“Niemand het gedink dat liefde tussen Colton Johnson en Elana Anderson bestem was nie, maar omstandighede het hulle op ‘n vreemde manier na mekaar gedryf op ‘n plaas in Texas.”

So gesels die 20-jarige Genevieve Croeser, ‘n oudleerder van Hoërskool Parys oor die hoofkarakters in haar eerste boek wat pas verskyn het. Not quite meant to be, word Vrydag, 24 Mei by Wranglers bekendgestel nadat die e-boek weergawe op 28 April ook op Amazon vrygestel is.

Vir die 20-jarige Genevieve, ‘n tweedejaar student aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus waar sy B.A. Regte met Sielkunde studeer, is die boek wat onafhanklik gepubliseer is, nie net ‘n kleintyd droom wat bewaarheid is nie, maar ook ‘n besondere mylpaal wat sy as gesiggestremde bereik het.

Hoewel sy van kleins af geskryf het, het sy in 2020 in haar graad 11 jaar die eerste keer haar hand werklik aan die skryfkuns gewaag toe sy begin het om ‘n boek te skryf. Dit was ook ‘n Cowboy liefdesverhaal, maar het sy gevoel dat die boek skaafwerk nodig het. Min het sy geweet dat Colton Johnson, ‘n karakter in haar boek, Not quite home, vier jaar later sy opwagting as die hoofkarakter van haar eerste gepubliseerde boek sou word.

Genevieve se liefde vir perde is soos ‘n goue draad verweef in die storielyn van Colton en Elana se liefdesverhaal. “Ek was nog altyd gefassineer deur die Cowboy leefstyl en sou graag eendag Texas toe wou gaan,” vertel Genevieve, maar vir nou gee dit haar eindelose vreugde om haar karakters te plaas waar haar drome lê.

“Daar is nog baie stories in my kop. Ek beplan om ‘n hele reeks oor die Johnson-gesin te skryf, en die boek wat ek in graad 11 geskryf het, sal beslis na ‘n bietjie skaaf ook deel van die reeks wees,” sê Genevieve wat met haar ysere wil en deursettingsvermoë self al vele uitdagings in haar lewe te bowe gekom het.

Al sou sy graag voltyds wou skryf kom haar studies nou eerste sê sy. Die eerste 30 hoofstukke van haar boek het sy verlede jaar in die Junie universiteitsvakansie geskryf, maar moes daarna wag tot die Desember-vakansie om die boek te kon voltooi.

Tussendeur haar studies probeeer sy minstens nog een keer per week perdry en vertel dat haar afrigter, Rosa van Niekerk, ‘n groot bydrae gelewer het as mentor en om te help om haar boek gepubliseer te kry. Omdat Genevieve blind is, kon sy nie insette gee oor die ontwerp van haar voorblad nie, maar het Rosa gesorg vir die kunstige voorblad van die boek waarvoor Genevieve al vele komplimente gekry het.

Genevieve het haar boek op haar Apex Braille Note Touch Plus geskryf wat haar in staat stel om die teks in Braille te kon lees en nagaan, waarna dit weer omgeskakel kan word na gewone teks.

Uitdagings as blinde persoon is daar baie vertel Genevieve, veral op kampus omdat daar nie bakens tussen klasse is nie, en dit haar ‘n ruk geneem het om haar gidshond, Brinkley, die roetes te leer.

Genevieve Croeser met haar eerste gepubliseerde boek.By haar is haar gidshond, Brinkley.

 

Struikelblokke soos dié kry Genevieve nie onder nie, en vertel sy met humor van die konsternasie met verskillende ingange by ‘n lesingslokaal. Vir haar en Brinkley is ‘n deur waarby hulle gewoonlik ingaan, wat skielik toe sou wees, ‘n dilemma, maar gelukkig kan sy altyd staatmaak op ‘n klasmaat om hulle die pad te wys.

Die lewe het Genevieve een ding geleer – droom groot, want elke stuikelblok is die eerste tree na ‘n oplossing.

En wie weet – dalk skryf sy nog eendag haar eie lewensverhaal van durf en waagmoed.

* Vrydagaand se boekbekendstelling het ‘n Cowboy-tema en begin 18:00 vir 18:30.

Related Articles

 
Back to top button