Local newsNews

Geliefde oud-valskermsoldaat sterf in tragiese botsing

Sy honde het die botsing oorleef en is in veilige sorg. Hulle gaan binnekort huis toe

Met eer en trots het hy elke dag die lewe aangepak. Integriteit, trots en waardes was deel van sy uitstaande karakter as mens. So sal sy kinders, familie en oudkollegas, Hannes Visagie (61) onthou, wat Saterdagmiddag 25 Mei so skielik uit hul lewens weggeruk is na ‘n motorongeluk met ‘n vragmotor op die R57 sowat 26km buite Sasolburg. Hannes is op die botsingstoneel oorlede.

Hy was in Oranjeville gevestig, en het vroeër jare in 1 Valskerm Batiljon gedien as valskermsoldaat in die weermag. Ten tyde van sy dood het hy gewerk vir Danie Pienaar, ‘n boer van Oranjeville.

Sy drie hondjies wat saam met hom in sy Ford Ranger bakkie was toe die ongeluk gebeur het, is ongedeerd.

Een van die hondjies, ‘n skaaphond, het weens die trauma van die botsing weggehardloop, maar is kort na die ongeluk deur die eienaar van ‘n plaas naby die botsingstoneel gevind en is veilig.

Die Yorkie en Alsation wat ook in die bakkie was, is na die botsing in die liefdevolle sorg van ‘n veearts van Sasolburg geplaas, en sal binnekort huis toe gaan. Hannes was besonder geheg aan sy honde.

Die gedenkdiens word Sondag 2 Junie vanuit die Eloffsdal Advent Sentrum te 453 Fred Nicolson rylaan, Mayville, Pretoria, gehou.

Sy as sal in ‘n nis in die SA Weermag gedenkmuur by die Voortrekkermonument geplaas word.

Hannes was geliefd onder soveel mense en by almal wat oor sy pad gekom het wie se lewens hy aangeraak en verryk het. Sy eerbaarheid, werksetiek en pragtige tuine wat hy vir mense uitgelê het, sal veral ook onthou word.

Hannes Visagie wat Saterdagmiddag tragies in ‘n motorongeluk gesterf het. Hy was ‘n oud-valskermsoldaat in die Weermag.

In ‘n huldeblyk aan hom skryf Belinda Meintjies, vriendin van sy seun Pieter, “Ons harte is bitterlik stukkend en uitmekaar geruk.”

Ook die SA Weermagvereniging se Nasionale Uitvoerende Raad en lede het in ‘n huldeblyk hul simpatie aan die familie betuig.

Hannes sal in liefdevolle herinnering onthou word deur sy eggenoot, Hannelie, seuns majoor Pieter Visagie wat ‘n vlieënier in die SA Lugmag is, en Diederik Visagie wat saam met sy pa geboer en ook in die konstruksiebedryf gewerk het, asook Jaap, Hannes se ouer broer.

* Die insittendes van die vragmotor wat ook in die botsing betrokke was, is nie beseer nie.

Related Articles

Back to top button