Pyplek kniehalter ook Heilbron se watervoorsiening
Die dorp gaan al vir maande gebruk onder ernstige waternood

Die Vrystaatse dorp Heilbron wat sedert Desember 2023 sukkel met ernstige waternood weens die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se skuld aan Rand Water, staar nog ‘n uitdaging in die gesig.
Volgens VF Plus rdl. Marinda Matthysen-Engelbrecht het Rand Water wat die dorp van water voorsien, in ‘n kennisgewing wat gister, Woensdag 5 Junie, uitgereik is, gesê dat ‘n groot pyplek op die pyplyn wat water vanaf die Vereeniging suiweringswerke na die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit en die Sasolburg reservoir pomp, watervoorsiening na die Emfuleni, Metsimaholo en Ngwathe Munisipaliteite sal raak.
Die versekering is gegee dat daar onverpoosd gewerk word om watertoevoer te herstel maar dat ‘n gedeelte van die pyplyn vervang moet word. Daar word verwag dat die herstelwerk nog tot Saterdag 8 Junie in die vroeë oggendure sal duur.
Rdl. Marinda het ook bevestig dat ‘n vergadering vanoggend met raadslede in Parys gehou word oor onder meer krag en watervoorsiening.



