Local newsNews

‘Geliefde verraaier’

“Baie van ons het tydens ons grootwordjare van Emily Hobhouse gehoor en dat sy baie vir vroue en kinders tydens die Anglo-Boereoorlog gedoen het. Tog het ek nooit besef wat sy self moes deurgaan nie. Verwerping deur haar eie mense, bespotting en ook verliese."

’n Bekende wetenskapjoernalis is tans besig met verdere navorsing oor een van die mees ikoniese figure in ons geskiedenis – Emily Hobhouse.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Kaapse kantoor het Woensdagaand 12 Junie die  voorreg gehad om te luister na Elsabé Brits, oor haar navorsing wat sy gedoen het oor Hobhouse en die ontdekkings wat gemaak is oor – soos sy dit stel, “fenominale vrou”.

Brits se navorsing het gelei tot haar boek, Emily Hobhouse, Geliefde Verraaier, wat in 2016
verskyn het. Hierdie boek is ’n paar keer bekroon onder andere in 2017 met die kyk-NET
Rapport Boekeprys vir nie-fiksie.

Sy gesels passievol oor Hobhouse en vertel dat sy nog steeds besig is om nog briewe te bekom wat Emily Hobhouse geskryf het.

Haar skyfiereeks begin met die oudste foto wat sy van Emily Hobhouse kon bekom. ’n
Pragtige 2-jarige klein Emily glimlag op die skerm. Sy word groot in ’n tyd toe dogters
tuisonderrig ontvang het en formele opleiding slegs vir seuns beskore was.

Dit pla Emily geweldig. Sy was leergierig en wou meer weet as wat onderrig tuis haar kon bied.

Jare later speel sy ’n baie groot rol in noodleniging tydens die Anglo-Boereoorlog. Sy voer ’n
verbete stryd, sê haar sê, skryf briewe, stig komitees, bemagtig prominente vroue in die
kampe om die verspreiding van voorraad te bestuur, hou vergaderings op alle vlakke, skryf
verslae en laat haar nie stop nie. ’n Engelse bevelvoerder verwys soos volg na haar: “She has the face
of a madonna but fights like the devil.”

In een van haar briewe blyk duidelik haar gevoel van magteloosheid toe sy nie kon voorbly
om voldoende voorrade te voorsien in kampe waar die getalle konstant toeneem nie en sy is
in ’n tweestryd. Sy besluit om eerder gouer as later terug te keer na Engeland en die stryd
daar op hoër vlak verder te voer om die verwaarlosing en sterftes in kampe te probeer stop,
oortuig daarvan dat sy simpatie en ondersteuning sou kry vir die pyn en lyding van vroue en
kinders.

Sy kry tuis die teendeel en verduur geweldige kritiek, verwyte en spot. Gesien teen die
agtergrond van ’n Victoriaanse vrou in haar tyd, waaroor Elsabé uitwei, maak die feit dat
Emily ongetroud, kinderloos, as vrou alleen gereis het, haar in die openbaar uitgespreek en
die Empire uitgedaag het, haar boonop die teiken van baie neerhalende en hatige
opmerkings. Daar word selfs gesê dat sy histeries is en oorreageer.

Helaas word sy ingeperk en verhoed om terug te keer na die kampe maar die
Afrikanervroue onthou haar. Jare later rus sy aan die voete van die Vrouemonument in
Bloemfontein. Haar toespraak jare tevore vir die onthulling van hierdie monument kon sy weens siekte nie self lewer nie.  Elsabé noem dat die tema daarvan spreek tot gelyke regte, vergifnis en die misbruik van mag.

Elmarie Kotzé het die praatjie bygewoon en verwoord haar indrukke as volg.
“Alhoewel ek reeds baie oor die onderwerp gelees het, het die toewyding en omvattende en
deeglike navorsing deur Elsabé Brits, my opgeval en beïndruk. Elsabé se boek en ook haar
praatjie eggo vir my, ten opsigte van Emily Hobhouse, die resultaat en invloed van ’n
persoon se gehoorsaamheid aan haar roeping, ongeag beperkende omstandighede,
uitdagings en tekortkominge, en ten opsigte van die skrywer self, haar gedetermineerdheid
om die werk en bydrae wat Emily Hobhouse in die lewe van duisende volksgenote en
wêreldwyd gelewer het, steeds vars in ons geheue te hou as navolgingswaardige voorbeeld
vir die huidige geslag,” sê Kotzé.

Jareka Myburgh sê Hobhouse was deel van haar vormingsjare.

“Baie van ons het tydens ons grootwordjare van Emily Hobhouse gehoor en dat sy baie vir
vroue en kinders tydens die Anglo-Boereoorlog gedoen het. Tog het ek nooit besef wat sy
self moes deurgaan nie. Verwerping deur haar eie mense, bespotting en ook verliese. Sy
het, ten spyte van soveel teenkanting, aanhou veg vir die onreg wat in konsentrasiekampe
was. Waarlik ’n merkwaardige vrou wie se lewensverhaal, danksy Elsabé Brits, vir ons
vasgepen is,” sê Myburg.

Dit val op hoe Juniemaand opkom in die Emily Hobhouse-verhaal. Op 13 Junie 1900 hou sy
’n vrouevergadering in Londen in Engeland, op 16 Junie 1900 is die verskoeide aardebeleid
uitgevaardig in Suid-Afrika, en op 8 Junie 1926 is Emily Hobhouse in Engeland oorlede.

  • Konsentrasiekampdag is die afgelope naweek oor die land herdenk, en is ‘n besondere aanbieding in die Vereenigingse Konsentrasiekamp begraafplaas gehou

Related Articles

Back to top button