Twee hoor volgende week of Hoë Hof oor moord sal beslis
Beide Motale en Mbele het 'n lang lys van vorige veroordelings. Hulle is vroeër borgtog geweier.

Blonde Motale en Piet Mbele, die twee mans van die Tumahole-woonbuurt wat vir die moord op Kenny Browne (72) teregstaan, verkyn Woensdag 17 Julie voor die hof in Parys wanneer daar na verwagting duidelikheid gegee sal word of die verhoor in die hooggeregshof aangehoor sal word.
Die saak is met die twee se vorige hofverskyning in Junie uitgestel vir verdere ondersoek vir die nagaan van selfoonrekords en DNA vergelyking. Daar sou toe ook aansoek gedoen word vir die moontlike oorplasing van die verhoor.
Kenny is deur sy moordenaars met ‘n plastieksak versmoor. Sy lyk is die oggend van 3 Maart deur ‘n gemeentelid van die Metodiste Kerk, Margie Frare, in sy huis in Fochstraat gekry.
Sy het na hom gaan soek omdat hy nie soos gewoonlik die Sondagoggend by die kerk was om te help met die erediensreëlings nie.
Kenny se selfoon en die selfoon van nog ‘n bejaarde vrou van Parys wat in ‘n afsonderlike voorval in haar huis oorval en aangerand is, is in die verdagtes se besit gevind Die polisie het ook beslag gelê op Kenny se skootrekenaar, sy gasbottel en elektroniese ware wat oënskynlik deur die verdagtes verkoop is.
Beide Motale en Mbele het ‘n lang lys van vorige veroordelings. Hulle is vroeër borgtog geweier.
* Beide Motale en Mbele het ook op 3 Julie in die hof verskyn vir ‘n saak waarin hulle die verdagtes is van ‘n selfoon wat vroeër vanjaar in die sakegebied van Parys geroof is Die selfoon is deur die polisie teruggevind. Die saak is uitgestel en verskyn hulle weer hiervoor in die hof op 17 Julie.