Local newsNews

Die inspirasie en perspirasie van skryf

Skryf is harde werk. Dit is 1% inspirasie en 99% perspirasie. Uit sy jarelange ervaring as deurwinterde digter en skrywer van onder meer die bekende Griekwapsalms en vele jeugromans, kortverhale, rubrieke, dramas en musiekspeles, het prof. Hans du Plessis geslyp aan die skryfvaardighede van aspirant skrywers by die Vredefort Koepel ATKV-tak se skryfwerkswinkel. Die werkswinkel …

Skryf is harde werk. Dit is 1% inspirasie en 99% perspirasie.

Uit sy jarelange ervaring as deurwinterde digter en skrywer van onder meer die bekende Griekwapsalms en vele jeugromans, kortverhale, rubrieke, dramas en musiekspeles, het prof. Hans du Plessis geslyp aan die skryfvaardighede van aspirant skrywers by die Vredefort Koepel ATKV-tak se skryfwerkswinkel. Die werkswinkel is die naweek in Parys aangebied en bygewoon deur 24 mense.

As ouddosent en voormalige direkteur van die ATKV-Skryfskool tot sy aftrede in 2011, het Du Plessis vele wenke en praktiese raad gedeel.
Die grootste probleem, sê hy, is mense wat wil skryf, maar nooit sover kom nie.

Hy het gesels oor die belangrikheid van beplanning en veral redigering in die skryfproses. So ook die nodigheid van ‘n sterk storielyn en spanningslyn waarmee jy deur die leser se verwagting breek.

Die skryfskool wat deur die AKTV-tak Vredefort Koepel aangebied is by Gentle Breeze Retreat in Parys.

Prof. Hans en sy vrou saam met Corlia Wentink van die ATKV-tak Vredefort Koepel.

“‘n Storie vertel gebeurtenisse met ‘n ketting wat gevorm word deur oorsake en gevolg.”

Jy kan nie skryf sonder ‘n woordeboek nie, was sy raad, en het hy bygevoeg dat om te kan skryf, moet jy lees, lees en nogmaals lees.
Dit help nie net om jou mark te verstaan nie, maar om jou taal goed te gebruik en bewus te wees van taal.

“Die storie vertel die karakters en karakters vertel die storie.” Jy skep karakters om mense te ontmoet – daarom moet jou karakters geloofwaardig wees, en moet jy moeite doen met jou karakters.

Daar moet interaksie wees tussen die karakters om spanning te skep en te bou aan die klimaks van die storielyn.
Ewe belangrik is tyd en ruimte wat die atmosfeer bepaal.

“Maak seker jou leser weet in watter tyd die verhaal afspeel en dat die tyd en ruimte wat geskep word, inpas by jou karakters,” het hy gesê.
In sy inspirasie vir die aspirant skrywers het hy hulle aangeraai om van beelding, metafore, beskrywende woorde en aktiewe aksie-werkwoorde gebruik te maak, maar versigtig te wees vir té veel byvoeglike naamwoorde.

“Belangrikste is om nooit jou leser te onderskat nie,” sê hy.

Prof. Hans du Plessis.

Prof. Hans sal met die viering van sy 80ste verjaardag in 2025, sy nuutste roman, Klein wonderwerk, bekendstel. Die roman vertel die nie-verwante verhale van ‘n meisie wat seksueel gemolesteer is, en dié van ‘n bejaarde man.

Du Plessis is geen onbekende in die Vredefort Koepel nie, en het hy en sy vrou die plot Rhebokkop aan die Vrystaat-kant van die Koepel gehad tot 2020 toe hulle die plot verkoop het.

Uit sy pen het ook die aangrypende jeugverhaal, Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou verskyn asook Verbrande Paradys wat die gebeure van ‘n vernietigende brand in die Vredefort Koepel vasvang.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button